WRSA hou Wildsvleis-inligtingsoggend by Wildsfees
THABAZIMBI – WRSA en Thabazimbi Wildlife Services gaan op Saterdag 1 Junie ‘n wildsvleis-seminaar tydens die Thabazimbi Wildsfees aanbied.
Hierdie seminaar, “Van plaas tot vurk – die ekonomiese waarde van jou bok” word om 10:00 by die HFM-skoolsaal aangebied.
Die gedagte is geïnisieer deur IMQAS (International Meat Quality Assurance Services) wat die groot leemte en behoefes in die wildsvleisbedryf wil bevorder en aanspreek. WRSA ondersteun die gedagte en is tans besig om landswyd die wildvleismark se potensiaal aan die publiek bekend te stel.
Thabazimbi is die wildmekka van die Bosveld en juis vir dié rede word die inligtingsdag hier gehou tydens die Wildsfees.
Vrydag 31 Mei om 11:00 hou Thabazimbi Wildlife Services ook hulle jaarlikse Wildfees-veiling op die Thabazimbi skougronde in die Trophy Breeder / Trollope Saal.
Die sprekers, tydens die seminaar, is die baie bekwame dr. Hein Nel (IMQAS), dr. Maretha Van der Merwe, Herman Barnard (WRSA) en Johan Claassen (Gondwana Marketing).
Gondwana Marketing sal ‘n demonstrasie lewer om die korrekte afslag van wild te beklemtoon asook ‘n demonstasie vir die versnitting van wildsvleis.
Thabazimbi Wildlife Services gaan heelparty wildsgeregte te proe aanbied tesame met Pick n Pay wat ook as borg, nog ‘n paar braaivleis-wildsgeregte daar sal braai en as lusmakertjie sal laat proe.
Binne in die hoërskoolsaal sal uitstallers ook die besoekers verder kan beïndruk met hul beskikbare dienste of produkte, onder andere wildsvleis-resepteboeke of CD’s.
Vir enige verdere inligting kan u Thabazimbi Wildife Services skakel by 072 102 6527 / 074 897 7178.
Ons sien uit om u daar te verwelkom vir die groot wildsvleisproe en aanhoor van “Plaas tot Vurk.”