Community

Vroue aangerand in 10de Laan

THABAZIMBI – Wat vir twee dames as ‘n roetine fiksheidstappie begin het op, Donderdagoggend 16 Mei omstreeks 05:10, het in ‘n verskriklike nagmerrie geëindig, toe ‘n jongman hulle met ‘n ysterpyp aangeval het.

Volgens ‘n persverklaring van die plaaslike polisie, is die twee stappers, Adele Klopper en Lindie Lategan deur ‘n man genader wat hulle vir die tyd gevra het. Lindie het afgekyk na haar horlosie en vanuit die hoek van haar oog die pyp gesien. Die aanvaller, Raymond Herbert (28), het dit agter sy rug uitgehaal en haar teen die linkerkant van haar kop en haar linkeroor geslaan, waarna sy geval het.

Adele het na Lindie gekyk, waarna hy haar ook ‘n hou toegedien het. Sy het egter probeer weghardloop, maar hy het haar agternagesit en haar nog ‘n hou van agter gegee.

Voordat hy weggehardloop het, het hy geskree: ‘Laat dit vir julle ’n les wees!’. Adele het gesê die man het niks gesteel nie, net geslaan. Volgens die polisie was sy motief om die dames aan te val, steeds onbekend.

Die twee vroue het ’n motoris voorgekeer wat hulle na Lindie se huis geneem het.

Adele moes 13 steke kry, terwyl die vel rondom Lindie se linkeroor blou is en haar oordrom beskadig is.

Raymond het in die landdroshof in Thabazimbi op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer verskyn, nadat hy kort ná die aanval in hegtenis geneem is. Sy borgaansoek was gister, Donderdag 23 Mei. Ten tye van perse was die hofuitslag nog onbekend.

Lindie het gesê sy ken nie die man wat hulle aangerand het nie, maar dat hy ’n persoon is wat in die dorp “ronddrentel”.