Vol inspirasie en verryk: VLU Noord hou Kongres
MODIMOLLE – “Ons het gelag, ons het gehuil, ons was beïndruk en geïnspireerd en het verryk teruggekom,” beskryf een lid van die Vroue Landbou Unie Noord haar ondervinding tydens die jaarlikse Kongres op Modimolle verlede week.
Met ‘n tema soos “Inspireer en verryk” was die verwagting groot en niemand is teleurgestel daar weg nie.
VLU Noord se persoonlikheid van 2013, Sheri Brynard, het elke kongresganger se hart in haar hand gehou met haar storie. Die meisie, wat met Downsindroom gebore is, het in haar kort lewetjie reeds meer bereik as die meeste mense in ‘n leeftyd. Sy het haar matriek en ‘n Diploma in Onderwys behaal, die enigste ‘Downsie’ wat dit nog kon regkry. Sy het ‘n rol vertolk in die TV-reeks ‘Binnelanders’. Sy is verlede jaar aangewys as die Shoprite/Checkers Jeugwerker van die Jaar en het vanjaar by die Verenigde Nasies in New York gepraat.
“Elke mens moet trots wees op wie hy is en die beste maak van wat hy het,” was haar boodskap aan ‘n rooi-oog gehoor.
Haar ma, die groot inspirasie agter Sheri, dr Susette Brynard, het die gehoor ingelig oor wat Downsindroom werklik is. Sy het vertel van die ongelooflike pad wat sy saam met haar kind gestap het die afgelope drie dekades.
Die Kunstenaar van die Jaar, Jak de Priester, het giggelende bewonderaars met woord en lied vermaak. Hulle kon behoorlik nie genoeg van die digter-troebadoer kry nie.
Die skrywer van die jaar, PG du Plessis, is verteenwoordig deur Koöperasiestories se Mietie, vertolk deur Elana Greyling.
Die vise-presidente van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue (WBPV), Anphia Grobler, het die inspirasie letterlik verwoord en lede is behoorlik opgesweep en begeesterd. Lede self het demonstrasies gehou om te wys hoe kreatief die VLU werklik is, deur te “Skep met wat jy het”!
Talente is behoorlik ten toon gestel met artikels wat meegeding het om plek onder die bestes van VLU Noord. Die streek met die grootste hoop bekers, was Soetdoring, wat die trofee vir Lekkers, Hekel-, Brei-, Borduurwerk, Kuns & Kunsvlyt en Fotografie verower. Bosveldstreek was tweede en het die trofee vir preservering gewen, met Koraal wat die beste in Masjienwerk gevaar het. Anneline Nel van Lavendertak in Koraalstreek se Kuns-ontwerp van Blare was die mees verdienstelike artikel op die Kongres. Die lede met die meeste punte was Madelein Uys (Soetdoring), Annette Swart (Bosveld) en Magriet Stolz (Soetdoring).
Die Top Skakelbeampte in Limpopo was Maritsa Jacobs van Beauty-tak uit Bosveldstreek. Die VLU Lid van die Jaar, ook uit Bosveldstreek, was Bettie Pistorius van Ellisrastak. Annetjie Dreyer, streeksvoorsitter van Bosveld was die gelukkige wenner van die Bernette 25 naaimasjien geborg deur Bernina in Lephalale.
Die VLU Noord kongresgangers was diep geraak deur die Persoonlikhied van die Jaar, Sheri Brynard. Hier is sy saam met Hettie Vermaak (links), Sheri en haar ma Susette, met Soetdoring streeksvoorsitter, Annelie Ehlers