Thabazimbi Gholfklub – Waar dinge gebeur
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Gholfklub is al ‘n geruime tyd besig met ‘n ontwikkelingsprogram en is die uitgangspunt om te ontwikkel op alle vlakke en nie noodwendig volgens kleur, geslag of ouderdom nie.
Die oprigting van ‘n dryfbaan asook die oefensetperk en nuwe kapsetperk verseker dat daar aan al die fasette van die spel aandag gegee kan word.
Die Klub het gedurende 2012 vir die eerste keer ‘n Junior Ligaspan in die Gauteng-Noord Junior Liga. Hierdie kinders oortref alle verwagting deur die Liga te wen en spanne soos Centurion (Liga wenners 2011/2010) ‘n goeie loesing te gee. Die Klub word daarna uitgenooi om vier spelers na die Louis Oosthuizen Junior Kampioenskappe te stuur. Heinrich Penzhorn, Armand Azar, JM Erasmus en Benhard Janse van Rensburg tree as die Netto Kampioene uit die stryd.
Die Klub het onder leiding van Esmé Behrens en Charlie Penzhorn op Ma/Di/Do vanaf 15:30 afrigting vir juniors aangebied. Die program hervat weer vanaf Maandag 3 Junie en word ouers uitgenooi om die jonges te bring vir afrigting.
Die Klub is ook tans besig met die ontwikkeling van minder bevoorregte kinders. Andrew Mankge (komiteelid) is in beheer van die program. Drie spelers naamlik Jerry Shongwane, David Moatshe en Isak Sepolwana het aan die Gauteng-Noord Joggie Toernooi te Irene Gholfklub deelgeneem. Jerry verloor met een hou en so ook ‘n plek in die Gauteng-Noord Span.
Die klub bied jaarliks ‘n Kaptein vs Kapteine dag aan en die fondse wat hieruit gegenereer word, word weer in die verskeie programme belê en kwalifiserende spelers ontvang toerusting wat hul mag benodig.
Alhoewel Thabazimbi Golfklub nou onder die grense van Limpopo Golfunie val, kry die ontwikkelingsprogram wat tans hier aangebied word, erkenning deurdat Gauteng-Noord die program as beste program aanwys. ‘n Bedrag word aan die Klub geskenk vir die voortgesette bestaan van die program.
Johannes Selokela, een van Thabazimbi Gholfklub se ontwikkelingspelers, wen vanjaar die Klubkampioenskappe. Wat die prestasie nog meer uniek maak, is die feit dat hy stokke geleen het om aan die Klubkampioenskappe deel te neem.
Kumba (Anglo American) bied ook jaarliks ‘n leweransiersdag te Thabazimbi Gholfklub aan waar fondse gegeneer word wat weer teruggeploeg word in die gemeenskap. Dit is met groot dank dat Kumba vanjaar aan Johannes ‘n nuwe stel Cleveland CG 16 ysters/balle/handskoen geskenk het. Later vanjaar moet hy meeding in die Limpopo se Kampioen vs Kampioene, asook die Nasionale Ontwikkelings Toernooi en die skenking bied hom ‘n beter kans om volgens sy potensiaal te presteer.
Gedurende die res van die maand is daar nog die volgende datums wat gemerk kan word. Die Northam Toyota Sundowner vind elke Woensdag plaas en enige speler is welkom om daaraan deel te neem. Op Saterdag 18 Mei is dit die Maandelikse Slagspel, Vrydag 24 Mei is dit weer Interaksietyd en Vrydag 31 Mei weer die Maandelikse Vleiskompetisie.
Op Vrydag 7 Junie beplan die Komitee ‘n Korporatiewe Naggolf Uitdaging. Hou asseblief die pers dop of skakel die Golfklub vir enige verdere inligting.
Die Komitee nooi ieder en elk uit om die buitelug van die pragtige golfbaan te kom inasem. Kom en geniet ‘n paar gaatjies van golf of die pragtige natuurskoon of kom geniet ‘n drankie op die stoep. Die golfbaan is in ‘n uitstekende toestand en harde werk word ingesit om die golfbaan op ‘n sekere standaard te kry en te hou. Iets waarop die dorp en omgewing baie trots kan wees. Graag wil ons die baanpersoneel, “Greenkeeper” en ander vrywilligers bedank vir die harde werk – ietsie waarop ons kan trots wees.
Vir enige verdere inligting rondom die programme of golfdae is u welkom om die golfbaan te kontak by 0760551749.
Johannes Selokela, een van die klub se ontwikkelingspelers en wenner van die klubkampioenskappe, is deur Kumba geborg met ‘n nuwe stel ysters, handskoene en balle. Op die foto is vlnr: Antoinette Scheepers (Kumba), Terry Dearlove (Komitee Gholfklub), Deon Schleubusch (Kumba), Johannes Selokela (Klubkampioen), Nic Alberts (Gholfklub), Esmé Behrens (Voorsitter Gholfklub) en Arthur Sylvanus (Kumba).