Oud-lid van Gholfklub maak Wingate syne
THABAZIMBI – Jaco Prinsloo, ‘n oud-Thabazimbiër, wat so goed op die gholfbaan presteer en waarvan daar ‘n paar weke gelede verslag gedoen is, het gedurende 1 – 3 Mei 2013 aan die sesde been van die Orange Crab toernooi te Asië, een van die Sonskyn Reeks Toernooie, te Wingate Country Club deelgeneem en die toernooi, wat oor 54 gaatjies gestrek het, ingepalm. Na sy sege het Jaco sy dankbaarheid teenoor sy afrigter, Graeme Francis, uitgespreek en was dié oorwinning vir hom ‘n groot pylpaal.
Die ontwikkelingspan het ook die afgelope naweek aan die Limpopo Netto Liga te Groblersdal gaan deelneem. Die twee spanne het teen Mogol Gholfklub meegeding en die uitslag was soos volg: Jerry, David en John wen hul wedstryd, Hendrik, Andrew en Isak verloor hulle wedstryd en Johannes en Caldon eindig gelykop,, wat beteken dat hulle teen die teenstanders gelykop gespeel het.
Op Vrydag, 17 Mei het drie spanne van Thabazimbi Gholfklub aan die Interklubkompetisie te Legends gaan deelneem. Daar was 17 spanne wat betrokke was by die dag. Die atmosfeer buite op die baan was baie lekker en die formaat was ‘n beterbal, met ‘n keuse dryfhou, met twee beste tellings. Billy Pring, Chappies Behrens, Esmé Behrens en Luzaan Combrink het algeheel 5de geëindig met ‘n telling van 103 punte. Die wenners, Legends Gholfklub, het ingekom met ‘n telling van 114 punte. Ben Harmse ontvang ‘n prys vir naaste aan die pen.
Op die tuisveld het Cobus Robbertse die afgelope Woensdag se NORTHAM Toyota Sundowner gewen met 17 punte oor 6 putjies. Tydens Saterdag se maandelikse slagspel het Piet Venter, met ‘n nettotelling van 66 met die louere weggestap en Chris Bronkhorst was tweede met ‘n nettotelling van 71.
Woensdag is weer die NORTHAM Toyota Sundowner en Vrydag ding die klomp gholfers weer mee vir die maandelikse Vleiskompetisie. Ieder en elkeen is welkom om aan hierdie kompetisies te kom deelneem en die natuurskoon en die pragtige baan te kom geniet.
Onthou die klub se Korporatiewe Naggholf uitdaging Vrydag 7 Junie. Dit is altyd ‘n baie lekker kompetisie en die atmosfeer buite om die baan, nog beter. Vir enige verdere navrae is u welkom om vir Lise-Ann by die gholfklub te kontak by 076 055 1749.