Gradeer jou dorp in Limpopo
Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy Gradeer-jou-dorp-veldtog in Limpopo geloods. Die doel van die veldtog is om gemeenskappe in staat te stel om die gehalte van dienslewering in hulle dorpe en stede te bepaal. AfriForum sal die uitslag van die evaluering aan munisipale bestuurders in die vorm van ‘n sertifikaat beskikbaar stel, om hulle bewus te maak van gemeenskappe se persepsies oor dienslewering in hulle onderskeie dorpe.
“Ons wil hê munisipaliteite moet weet wat hulle inwoners van hulle dink, of dit nou goed of sleg is. Sodra ons die besonderhede het, kan ons kwessies wat aandag verdien evalueer en prioritiseer, en dan kan ons dit met die bepaalde owerhede bespreek,” sê Ivan Herselman, adjunkhoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum.
Alle mense in Limpopo word aangemoedig om hierdie veldtog te ondersteun deur die kort elektroniese meningsopname by www.gradeerjoudorp.co.za af te laai en in te vul. E-pos die ingevulde vorm na gradeerjoudorp@afriforum.co.za. AfriForum sal seker maak jou stem word gehoor.
“Dit sal AfriForum die geleentheid bied om te bepaal waar ons ingryping nodig is. Hoe meer mense aan die veldtog deelneem, hoe beter is dit vir jou dorp,” sê Morné Mostert, AfriForum se organiseerder vir Limpopo.