Carla reik na die sterre
MONTE CASINO – Die plaaslike skoonheid, Carla Viljoen, reis eersdaags na Amerika om haar droom as loopplank model te verwesenlik.
Ten spyte van ‘n baie besige matriekjaar, verlede jaar, kon Carla steeds tyd inruim om deel te neem aan ‘n internasionale konvensie by Monte Casino op Saterdag 29 September 2012, waar sy haar talent as model kon ten toon stel aan internasionale agente. Hulle het Suid-Afrika besoek op soek na nuwe en vars jong talentvolle sangers, dansers, modelle en akteurs.
Carla het duidelik beïndruk en vertrek op 14 Junie 2013 saam met ‘n uitgesoekte groep Suid-Afrikaanse jongmense om Suid-Afrika op die ARTS internasionale verhoog te verteenwoordig.
ARTS bied vir jong talentvolle sangers, dansers, modelle en akteurs die geleentheid om ‘n internasionale loopbaan te volg.
Carla sien hierdie geleentheid as een van haar grootste prestasies tot dusver. Sy begin haar internasionale reis op 14 Junie na New York en vertrek vandaar na Orlando, Florida waar die konvensie vanaf 19 Junie sal plaasvind.
Kort nadat Carla vir ARTS gekies is, het sy ook ‘n aanbod ontvang om by die hoogs aangeskrewe New York Film Academy in Hollywood (Los Angeles) te gaan studeer.
“Ek is ‘n vasberade, gemotiveerde en entoesiastiese tiener wie op die drumpel staan om ‘n internasionale loopplank model te wees,” het Carla aan Kwêvoël gesê.
Carla wil vir jong volwassenes wys dat ‘n droom wel werklikheid kan word. “Internasionaal is nie onmoontlik nie.”
Die jonge Carla Viljoen staan op die vooraand van ‘n internasionale loopbaan as loopplank model.