Bosbok skryf voertuig af
Die Kwêvoël se fotograaf se planne om die Bon Jovi konsert by te woon het so amper-amper skipbreuk gely toe ‘n bosbok by Blinkwaterspruit, net anderkant Koedoeskop, besluit het om helder oordag oor die brugreling voor die motor waarin sy, haar man, Willie, en hul dogter Desireé, gereis het te spring. Volgens Willie wat die motor bestuur het, was daar geen waarskuwing aangesien die bok eers sigbaar was toe dit eers reg voor die kar op die pad geland het. Weens die slag het die lugsakke onmiddellik ontplooi. Buiten dat die sig belemmer is, het die enjinkap ook oopgevlieg en teen die windskerm vasgeslaan. Sonder enige vorentoe sig het Willie daarin geslaag om die voertuig op die pad te hou, al het hulle eers op die oorkantse skouer tot stilstand gekom. Gelukkig was daar geen aankomende verkeer nie en het nie een van hulle beserings opgedoen nie, alhoewel die bok opslag gedood is. Dit het hulle beslis nie afgesit om die konsert by te woon nie en is hulle met die gesin se tweede motor deur na Johannesburg. Volgens Michell het die konsert goed daarin geslaag om hulle op te beur na die ongeluk wat hulle getref het.
Die motorvoertuig het sowat R118000 se skade opgedoen. Motoriste word gewaarsku om uiters versigtig, hier aan die begin van die jagseisoen, op die omgewing se paaie te ry. Die wild is verskrik weens die jagtery en is meer geneig om vir enige steuring in hul nabye omgewing te reageer.