Vol magies met Solidariteit broodjieprojek
NORTHAM – Die Solidariteit Helpende Hand se Northam-tak het hul broodjieprojek by Laerskool Platinum se Northam-tak afgeskop.
Dié tak het verlede week smaaklike vars toebroodjies aan die behoeftige leerders van die skool voorsien, met die hulp van Swartklip Spar se Sidney de Castro se skenking van die brood. Verskeie leerkragte het kinders geïdentifiseer wat by die projek sou baatvind.
In samewerking met die hoof van die Laerskool, mnr Leon Nigrini, is daar ook ‘n tweede projek geloods om voedsel in te samel waar verskeie leerders nie-bederfbare voedsel en klere aan Solidariteit voorsien, sodat hulle op hul beurt dit aan behoeftiges kan uitdeel.
Solidariteit Helpende Hand beoog om hierdie broodjieprojek vir ‘n maand per skool te dryf. Hulle vra dus die gemeenskap vir enige bydrae. “Sonder u kan ons nie voortgaan om mense te help nie,” het hulle aan Kwêvoël gesê.
Om deel te word van hierdie projek, of vir enige navrae, skakel die skakelbeampte, Jenny Streak by 084 968 5022.
Lede van Solidariteit Helpende Hand, Northam-tak tydens die broodjieprojek: Jenny Streak (sekretaresse en skakelbeampte), Rene Laas (visevoorsitster en tesouriere), mnr Leon Nigrini (hoof van Laerskool Platina) en Susan Dennett (addisionele lid).