Groot verrassing vir Special Needs skoliere
THABAZIMBI – ‘n Groot verrassing het die leerders van Spitskop Special Needs Skool ingewag toe hulle verlede week hul opwagting by die skool gemaak het nadat daar ‘n groot hindernisbaan op die perseel opgerig is.
Die ontwikkeling van groot motoriese vaardighede is ‘n belangrike deel van die programme wat gevolg word by die skool. Nadat die skool onlangs skenkings ontvang het van verskeie instansies wat verskillende groottes buitebande, verf en ander items ingesluit het, het van die personeel met hul gesinne, verlede Saterdag ingespring en ‘n hindernisbaan uit dié items opgerig.
Dit was ‘n baie bedrywige dag en die helpers was aan die gang van vroegoggend tot laatmiddag. Gate is gegrawe, sand is aangery met kruiwaens, bande is geverf en geplant, hout is aangedra en tussendeur is daar sommer heerlik saamgekuier ook. Die resultaat? Elke kind wat Maandag sy opwagting by die skool gemaak het, se gesiggie het sommer opgehelder van opgewondenheid oor die lekkerte wat op hom gewag het.
So speel-speel verbeter die leerders se groot motoriese vaardighede en word mylpale bereik. As deel van die projek is twee groot buitebande met sand gevul en word die fisies gestremde leerlinge daarin sitgemaak, sodat hulle ook deel van die projek kan wees. Spitskop Special Needs Skool bedank graag almal wat bygedra het tot hierdie suksesvolle projek.
Die skool het tans ‘n behoefte aan ‘n groterige stootwaentjie en/of loopring vir die fisies gestremde kinders. Indien enige iemand kan help, kontak gerus vir Salomien Snyman by 0724633657 of Sanet Basson by 0826862473. Besoek gerus hul webwerf www.spitskopspecialneedsschool.com en ons Facebookbladsy vir meer inligting.
Bernice en Rouxlé besig om binnebande te verf vir die nuwe hindernisbaan.