AfriForum stig 110de tak in Thabazimbi

THABAZIMBI – Die burgerregte-organisasie, AfriForum, spog nou met 110 takke dwarsoor die land, nadat ‘n nuwe tak op Thabazimbi gestig is.

Op Woensdagaand, 8 Mei 2013 het die gemeenskap in Thabazimbi byeengekom en eenparig besluit dat ‘n AfriForum-tak in Thabazimbi broodnodig is.

Volgens Johan Barkenhuizen, nuutverkose takvoorsitter, word die gemeenskap toenemend onder druk geplaas as gevolg van staatsinstellings wat nie hul grondwetlike pligte nakom nie.

“Ons eerste projek gaan wees om ondersoek in te stel of die senior munisipale amptenare behoorlik vir hul poste gekwalifiseer is,” sê Barkenhuizen.

AfriForum het reeds ‘n prokureursbrief aan die munisipaliteit gestuur waarin daar geëis word dat inligting omtrent die amptenare se kwalifikasies aan die organisasie bekendgemaak word. “Indien AfriForum geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie, sal AfriForum die hof nader om die munisipaliteit te dwing om die inligting bekend te maak,” sê Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Limpopo.

Die nuwe AfriForum-tak sal ook fokus op kwessies betreffende plaaslike regering, gemeenskapsveiligheid en omgewingsake en bied aan die gemeenskap ‘n platform sodat hul stemme gehoor kan word.

AfriForum doen ’n beroep op Thabazimbi se inwoners om betrokke te raak by die AfriForum-tak. Enigeen wat wil aansluit en deel wil wees van ‘n organisasie wat ‘n daadwerklike verskil maak, kan “Thaba” SMS na 31488. Die SMS kos 50c.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.