Staat se rol in Wes-Kaapse arbeidsonrus benodig verdere opklaring
Agri SA verwelkom minister Tina Joemat-Pettersson se bevestiging dat die departement van landbou, bosbou en visserye, ruimskoots tot die befondsing van die Black Association of the Wine and Spirits Industry (BAWSI) bygedra het. Dié organisasie en sy vakbondfiliaal, die BAWSI Agricultural Workers’ Union of South Africa (BAWUSA), was sleutelspelers in die onlangse arbeidsonrus in die Wes-Kaap.
“Agri SA is besorg dat daar met hierdie bewilliging ‘n presedent geskep is vir staatsondersteuning aan arbeidsorganisasies, wat hulle sodoende in staat stel om ‘n leidende rol in onwettige en ontwrigtende arbeidsonrus te speel. Daarom is dit in openbare belang om verdere opklaring te verkry oor riglyne vir en kontroles oor die aanwending van hierdie bewilliging, asook enige ander finansiële bystand deur die staat aan organisasies of gemeenskappe wat met die onrus verband hou”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.
Möller sê verder dat dit interessant sal wees om te sien watter dienste deur BAWSI in terme van die toepaslike diensvlakooreenkoms gelewer moet word. Agri SA verlang volledige deursigtigheid oor alle aspekte daarvan, insluitend gedetailleerde verslagdoening oor die aanwending van die bewilliging.