CommunityTop Stories

Bushveld Babes sorg vir vermaaklike aand

KOEDOESKOP – Die Bushveld Babes, wat reeds vir die afgelope ses jaar hul liefdadigheidskonserte in kabaretformaat aanbied, het weereens gesorg vir ‘n baie stylvolle en vermaaklike kabaretvertoning.

Die dames van Leeupoort en Koedoeskop het met hul kleurvolle kostuums en gepaste musiek bewys dat die Bosveld beslis oor talent beskik. Die choreografie was uit die boonste rakke en die musiek spesifiek uitgekies vir elke item. Mens kan verseker wees dat, ongeag die ouderdom van die dames, een en almal verruklik gelyk het en die gehoor op die punte van hul sitplekke gehou het.

Die kabaret is afgewissel met ‘n paar nommertjies, soos die talentvolle nuwe jong en aantreklike sanger, Joshua Willis, wat in die toekoms die jong dametjies se knieë behoorlik gaan laat knak. Daarby was Stephan Rosseau met sy goue trompet en die manne was nie links nie en het met die poppewals die verhoog oorgeneem, tot groot pret van die gehoor.

Twee jong dansstudente, Lee-Ann Bender en Suné de Kock, het ook met ‘n paar goed afgeronde dansnommertjies die gaste duidelik beïndruk.

Die saal was volgepak met tafels wat gelaai is met lekkernye, wat elke groepie op piekniekstyl uitgepak het.

Die wins wat tydens die aand gemaak is, is aan die Leeupoort Biblioteek geskenk vir die aankoop van nuwe boeke en verbetering van die fasiliteite.

As mens al die moeite en koste in ag neem in die maak van die verskillende kostuums, is dit jammer dat die Bushveld Babes basies tot een vertoning beperk is. Met die regte ondersteuning, om dit ook vir hulle die moeite werd te maak, kan die Bushveld Babes meer betrek word, om te wys wat moontlik is deur ‘n groter poging om iets aan die gemeenskap terug te gee deur talentvolle vermaak.

18-Bushveld Babes 010

Een van die kleurvolle items, wat baie glans aan die geleentheid gegee het.