Ses vermeende renosterstropers aangekeer
Twee renosters wat gedurende die Paasnaweek geskiet en onthoring is met ’n byl, is op Saterdag, 13 April, deur ’n werknemer van ’n bekende wildsplaas in die Mookgophong-omgewing naby Roedtan gevind.
Een renoster is dood en die ander een beseer.
Volgens die werknemer het hy die middag omstreeks 16:30 gaste op ’n wildrit geneem, toe hy die aardige reuk geruik het. Hy het aanvanklik gedink dat dit dalk ’n bok is, maar ná ’n soektog het hy op die renoster se karkas afgekom.
Die polisie van Mookgophong, die veediefstaleenheid van Modimolle asook spoorsnyers is dadelik gekontak.
Omdat dit reeds donker was, kon hulle eers vroeg die Sondagoggend die saak begin ondersoek.
Daar is na bewering ongeveer 20 leë AK47-patroondoppies op die toneel gevind. Daar is vermoed dat die stropers wild en wakker geskiet het en dat daar moontlik meer as een renoster op die toneel was, wat die eienaar laat besluit het om per helikopter ondersoek in te stel om seker te maak dat die ander renosters ongedeerd is.
Vanuit die lug het hulle opgemerk dat ’n renosterkoei mank loop. Hulle het haar onder verdowing geplaas en met skok agtergekom dat sy twee keer gekwes is.
’n Plaaslike veearts het bevestig dat dit ernstig is, en hy het haar nie baie tyd gegee om te lewe nie. Die eienaar het egter besluit dat hy vir die renoster se lewe gaan baklei, en die renosterkoei is op Dinsdag, 16 April, weer onder verdowing geplaas en na Onderstepoort vervoer waar sy geopereer is. Haar nege maande oue kalf sal voorts hans grootgemaak word totdat sy herstel het.
Daar word vermoed dat die renoster wat dood gevind is, dragtig was.
Danksy die flinke optrede van die Modimolle-veediefstaleenheid en spoorsnyers Vossie Vosloo, eienaar van Scorpion Sekuriteit, Ben Engelbrecht asook een van San Park se ondersoekbeamptes, is twee mans van Mookgophong op Sondag, 14 April, in hegtenis geneem en ’n AK47 is in hulle besit gevind. Met verdere ondersoek is vier ander mans later die dag by Soshanguve noordwes van Pretoria aangekeer. AK47-gewere is na bewering by die mans gevind, asook R46 000 kontant.
Die ses mans wat aangekeer is, is vermoedelik Mosambiekse immigrante tussen die ouderdomme van 25 en 34 jaar. Die mans sal op Woensdag, 17 April, in die landdroshof op Mookgophong verskyn om aansoek vir borgtog te doen.
Volgens onlangse statistieke is daar reeds vanjaar 188 renosters in Suid-Afrika gestroop. — LiN Nuus/Die Pos