Sakkerollers doenig in Thaba
THABAZIMBI – Verskeie voorvalle van vernuftige diefstal, waar items sonder die eienaars se medewete uit handsakke gesteel word, is die afgelope tyd onder die Kwêvoël se aandag gebring.
Volgens ‘n slagoffer, wat haar beursie eers by die betaalpunt vermis het, is hierdie sakkerollers goed gekonfyt in die kuns om hul teiken se aandag af te trek. Sy vertel aan Kwêvoël dat sy besig was met inkopies in ‘n bekende plaaslike kettingwinkelgroep toe ‘n man spontaan met haar begin gesels het oor ‘n produk waarna hy opsoek is. Hy het haar gevra oor die item, waarna die dame haar arm opgelig het om hom uit te wys waar die produk op die rak is. Sy vermoed egter dat dit ‘n bende is wat telkens op sagte teikens toeslaan, aangesien daar nog iemand aan die kant van haar handsak gestaan het, wat dus maklik die beursie uit haar handsak kon neem. By die betaalpunt het haar beursie, wat sy nog by die vorige winkel gehad het, spoorloos verdwyn.
“Om ‘n saak van diefstal by die polisie aan te meld, is ‘n mors van tyd.” Het sy aan Kwêvoël gesê. Die betrokke kettingwinkelgroep het slegs kringtelevisiekameras by die betaalpunte. Dit kon dus nie bepaal word of ‘n misdaad wel plaasgevind het nie, alhoewel die dame daarvan oortuig is dat sy wel haar beursie by haar gehad het toe sy na die winkel gegaan het. Die man wat haar kwansuis oor ‘n produk uitgevra het, se optrede was vir haar eers agterna verdag en kan sy dus nie die man se gesig identifiseer nie.
Selfone word ook op dieselfde manier gesteel.
Volgens die SAPD is bejaardes en vroue sagte teikens wat grypdiewe en sakkerollers betref. Hulle stel voor dat vroue ‘n sowat 15cm ketting aan hul beursie vasmaak en dit aan die binnekant van hul handsak vasheg, sodoende kan die sakkeroller nie die beursie gaps sonder om die slagoffer daarvan bewus te maak nie. Wees ook paraat wanneer jy na jou voertuig stap, met jou sleutel in jou hand, gereed om oop te sluit, sodat jy nie by jou voertuig in jou handsak hoef rond te soek nie.
