Ons lesers skryf:
My kat Koos se nege lewens
Ek het ‘n pragtige gemmerkat op die plaas, Koos!
Hoe oud hy werklik is en waar ons nou eintlik aan mekaar gekom het, kan ek nie mooi onthou nie.
Maak nie ‘n fout nie, Koos is nie ‘n gewone huis kat nie, maar ons is al ‘n geruime aantal jare goeie “vriende”.
Koos kom glad nie in die huis nie, maar wanneer dit hom pas skuur en flikvlooi hy teen my been vir aandag.
Sou ek hom optel en die gras en klitse uit sy pels vryf, dan is hy in die KATHEMEL!
Koos kom daagliks in my werkswinkel vir sy stukkie peuselhappie op die werksbank, al sien ek soms net aan die gevrete kos dat hy daar was.
Soms sien ek hom vir ‘n hele week nie, dan skielik is hy weer langs my been!
So paar maande terug het ek opgelet dat Koos se Regter oog makeer, dit was rou en stukkend.
Ek kon nie die oorsaak vasstel nie, maar het met behulp van die veearts se advies vir Koos gesond gedokter, alhoewel hy ongelukkig die sig in sy oog verloor het.
So paar dae daarna vertel my jongste seun vir my die bure se seun loop spog by die skool dat hulle Koos met die windbuks in die oog geskiet het!
Verlede Saterdag oggend vroeg gee Koos my weer die skok van my lewe!
Ons het ‘n Yorkshire hondjie wat snags as waghond in die huis slaap.
Ek is vroeg op om hom uit te sit vir sy oggend natuur wandeling, en kry vir Koos voor die deur sit.
Ek kon dadelik sien dat Koos weer makeer, en vir my kom wys het.
Ek het die lig aangeskakel om beter te kon sien, en kon nie glo wat ek aanskou nie.
Hier sit Koos met ‘n pyl deur sy lyf geskiet regop voor die deur!
Ek het sommer dadelik weer dieselfde buurman verdink.
Van skok het ek sommer self die pyl uit Koos se lyf getrek, en het met raad en advies van die veearts, dr Dawid Snyman, vir Koos die nodige medikasie vir die pyn en inflammasie gekry wat ek hom gee so gereeld as wat ek hom sien.
Later die oggend het my buurman oor die telefoon teenoor my vrou erken dat hy die kat geskiet het omrede die kat hulle pla en hulle nie kan slaap nie!
Omrede ek die pyl self verwyder het en net foto’s het, is my bewys kanse blykbaar te skraal om die saak aan te gee vir ondersoek.
Gelukkig lewe Koos nog, en het hy volgens die spreekwoord darem nog sewe lewens oor……..
Hector Richardson