Matrikulante van 1963 hou reünie by HFM

Die inisiatief van drie vriendinne, wat ook matriekmaats in 1963 by Hoërskool Frikkie Meyer was, het uitgeloop op ‘n heerlike en verrassende weersiens op Saterdag 27 April 2013. Vyftig jaar gelede was hulle jonk en op die vooraand van hul lewens, en die afgelope Saterdag kon hulle – alhoewel ouer en gryser – met dieselfde jeugdige drif, hulle ryke ervarings van die afgelope halfeeu met mekaar deel.

Van die 45 is sewe reeds oorlede en drie in die buiteland woonagtig, terwyl vyf glad nie opgespoor kon word nie. Die oorblywende dertig was in volle sterkte en met groot geesdrif teenwoordig. Onder die aanwesiges was daar boere, weermagmanne, heelwat onderwysers, ‘n mediese spesialis, een ouditeur, kunstenaars, sterk finansiële entrepreneurs (mynbou en toerisme), asook ‘n oud SA skole-atleet.

Dit was behoorlik ‘n “wie’s jy nou weer?” van ‘n ander wêreld en dan die skaterlag van “ek sou jou nooit herken het nie!”. Baie vinnig het die vyftig verbygegane jare, borrelende mededelings geword met die gepaardgaande vreugde om te kan deel in die lief en leed van die tye wat hulle mekaar nie gesien of van mekaar gehoor het nie.

Voor die middagete is die skoolterrein te voet verken en selfs dele van hulle operette van destyds op die verhoog in die saal heropgevoer. Onderwysers wie se name spontaan bly opduik het, was Apie Korb (Biologie), Charles Wright, meneer “Snawel” Potgieter (Afrikaans), meneer “Parra” van Deventer (Boekhou), Alet van Rensburg (Huishoudkunde), mevrou Pienaar (Engels), Piet Skeen (Houtwerk) en Jan Coetze (Wiskunde), terwyl die hoof, meneer ABK van Zyl steeds almal se grootste held gebly het.

‘n Groep verrykte en dankbare maats oor die vyftig plus afgelope jaar, het teësinnig die middag huiswaarts gekeer met die onderneming om deur middel van SMS’e en e-posse te sorg dat die jare wat voorlê, nie weer so onbekend met mekaar se doen en late sal verbygaan nie.

18- HFM

Agter vlnr: Johan Cronjé, Victor Niewoudt en Jan du Plessis. Middel: Roelf Fuistenburg, Kobus Potgieter, Frikkie Coetzee, Tar Schoonbee, Sannie Oeschger (du Plessis), Ria Terblancé (v Rensburg), Ronél Laufs (Coetzee) en Henry Simm.

Voor: Ria v Zyl (v Wyk), Martie Prinsloo (Botha), Mientjie Broekhuizen (Grobler), Delien du Plessis (v.d. Westhuizen), Aloma v Rensburg (Hattingh), Tinkie Coetzee (v Vuuren), Elsa v Vuuren  en Lida Malan (Fourie). Afwesig: Leon Raats (voortydsgeloop)