Apiesdoring Karnaval – Beeste, bokke, buffels…
Promosie Artikel
THABAZIMBI – Die Apiesdoring karnaval, wat die laaste 5 jaar deur die Hervormde kerk aangebied is, het nou ‘n instelling geword waarna die hele Thabazimbi gemeenskap uitsien.
Die karnavalkomitee het hierdie week ‘n berig gestuur om jaarlikse besoekers kortliks in te lig wat voorlê vir 2013.
By die Hervormers word gepraat van karnavalseisoen. Dit skop min of meer af as die biltong jagseisoen begin – vroeg in Meimaand. Dan word dan vir weke en maande opgewonde karnaval gedink, gepraat en geskerts. Woensdae aande kom die manne bymekaar om wild te bewerk. By die 65 wildkarkasse word jaarliks verwerk – geskenk deur lidmate en vriende van die gemeente.
Isak Joubert, die karnavalvoorsitter, het laat weet dat daar ook geen moeite ontsien sal word om die standaard te handhaaf wat die mak vleis betref nie. Die A-graad tollies word reeds in die voerkraal afgerond. Meer as 50 beeste word geslag en 60 skape word afgerond.
Hierdie jaar is egter uniek met ‘n baie groot buffeljag pakket wat te wen is. Net 100 kaartjies word verkoop – “want die meeste mense is in elk geval te bang om ‘n buffel te jag” skryf die organiseerders. Kaartjies is eers beskikbaar aan ons dorp en sy mense, voordat die voorwêreld se jagters kans sal kry om ‘n kaartjie te koop. Sien elders in die Kwêvoël die advertensie met meer besonderhede daaroor.
Die kunstenaars hierdie jaar is die gewilde Robbie Wessels en Adam Tas. En met Robbie daar is dit nogal gepas dat die dieregeluid wat hierdie jaar nagemaak word ‘n leeu is. Tienduisend rand se kontant is te wen vir wie die brul van die koning van die oerwoud die beste kan namaak. Of Robbie hierdie “eie”-aan-die-Apiesdoring-karnaval-kompetisie gaan inlui met die “berugte” leeuloop liedjie is nog nie seker nie….
Voorts word die karnavalterrein intussen meer rolstoel vriendelik gemaak en meer parkering word in die vooruitsig gestel. Maak solank ‘n groot kring om die jaarkalender by Saterdag 3 Augustus. Toegang is gratis.
Vir navrae kontak Izak Joubert 083 488 6357 by of ds Hennie van der Linde by 083 507 0335.