18 medaljes vir TBZ Skopboksers

THABAZIMBI – Thabazimbi Skopboksklub het weer presteer op een van die gewildste en grootste toernooie vir vegkunste, naamlik die Great North. Hierdie toernooi word in ‘n reeks van drie per jaar aangebied. Altesaam agtien medaljes in verskeie afdelings is ingepalm waarvan agt goud, ses silwer en vier brons was.

Volgens hul afrigter, Shihan Peet van Breda, was daar sterk kompetisie onder die sowat agt honderd deelnemers in verskillende divisies.

Hanno du Toit het veral aandag getrek met sy sterk vertoning wat lof onder toeskouers en instrukteurs uitgelok het. Michael Buys, senior volkontak kampioen, kan uitgesonder word in twee uitstekende gevegte, waarvan een met ‘n uitklophou in die tweede rondte was. So ook het Francois Buys die pa/seun tradisie van wen verder versterk deur ook sy twee volkontak gevegte te wen.

Shihan Van Breda wens sy wenspan geluk met die vertonings. Hulle sien uit na die Limpopo proewe en die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Oudtshoorn wat vanaf 22 tot 24 Junie 2013 plaasvind.

Na die SA Kampioenskappe vertrek Francois Buys na Mauritius vir internasionale deelname aan die “Low Kick” kampioenskappe. Die klub wens hom voorspoed met die voorbereiding.

18-Skopboks

Die skopboksers van Thabazimbi Skopboksklub wat tydens die Great North toernooi 18 medaljes verower het, agter vlnr: Willem, Vicus Venter, Armen Fouche, Christiaan Duvenhage en Rohan Erasmus. Voor: Willem Henning, Hanno du Toit en Hendry Lynn.