Community

Vonke spat by GOP-vergadering

THABAZIMBI – ‘n Vurige onderonsie tussen Wyk 2 se inwoners en die Munisipale Bestuurder, adv Edward Ntsoane, het tydens die publieke deelname vergadering vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan en begroting vir 2013/2014 op Dinsdagmiddag 9 April, plaasgevind.

‘n Groot getal inwoners het die vergadering bygewoon en het beurtelings klagtes en vrae aan die bestuurder gerig, waarop hy antwoorde en oplossings aan hulle kon bied. Van die klagtes het ingesluit: ontwettige storting van vullis, toestand van die begraafplaas, promulgering van bywette, lamppale wat omgery word en nie herstel word nie, toestand van die parke, algehele beeld van Thabazimbi, asook die rekeninge-afdeling by die munisipaliteit.

Die bestuurder is kort-kort onderbreek deur gefrustreerde inwoners wat aangedring het dat hy eerlike antwoorde op hul vrae bied. Namate die humeure opgevlam het, het die bestuurder aan die inwoners gesê, “I understand you might be p***ed off,” en hulle gevra om hom die geleentheid te gee om die vrae te beantwoord.

Die burgemeester het die inwoners ingelig oor beoogde projekte, soos die opgradering van Thaba Park vir sowat R4 miljoen, die aanskaffing van ‘n kompakteervragmotor vir vullisverwydering, strate wat reggemaak gaan word, Fase 2 van die wateropgradering en aanbring van spoedbulte, onder andere in Steenbokstraat.

Raadslid Paul Scruton het die inwoners genooi na die Wykskomiteevergadering op Dinsdag 23 April om 18:00 te Christian Family Church te Bonanza. Klagtes word deur die Wykskomitee aan die kantoor van die speaker deurgegee wat op hul beurt dit aan die LUR van COGHSTA rig. Sodoende word daar meer druk op plaaslike regering geplaas.

Raadslid Bertie Joubert het ter afsluiting die Wykslede bedank vir hul teenwoordigheid en gesê dat die Munisipaliteit kennis neem van die dringendheid vir dienslewering aan die betalende inwoners.

Die volgende GOP-vergaderings is: Saterdag 13 April om 10:00 te Rooiberg Gemeenskapsaal, kontak raadslid Paul Scruton 083 278 9214 of raadslid T Mkansi 082 977 2225; Sondag 14 April om 10:00 te Groenvlei Hoërskool, kontak raadslid Mokwena 073 427 1092; Dinsdag 16 April om 17:30 te Regorogile Gemeenskapsaal, kontak rdle Fischer 083 235 8522 of Tlhabadira 074 217 4250 of Moatshe 072 957 0548; Woensdag 17 April om 17:30 te Masepela Gemeenskapsaal, kontak raadslid Moatshe 072 957 0548 en Donderdag 18 April om 17:30 te Jabulani Open Space, kontak rdle Sikwaari 082 830 2392 of Matsietsa 078 945 2569.