Skaduminister besoek Northam oor eindelose probleme
NORTHAM – Die skaduminister van Behuising en Tradisionele sake, John Steenhuisen, het tesame met die DA leiers van Limpopo besoek aan Northam afgelê, na aanleiding van verskeie klagtes oor dienslewering in die dorp. Northam val binne die munisipale grense van Thabazimbi Munisipaliteit.
‘n Vergadering is op Vrydag 5 April in Northam gehou sodat belanghebbendes en inwoners van Northam hul griewe en frustrasies aan die leiers kon oordra.
Een van die hoofklagtes is die bedrag van R11 miljoen wat deur die Thabazimbi munisipaliteit bewillig is vir die opgradering van strate in die dorp.
Konstruksiewerk het begin en verskeie strate is omgeploeg vir die bou van ‘n nuwe ryvlak. Vir etlike maande is dit net so gelaat, dit nadat die uitbetaling vir die volle kontrak aan die oorspronklike kontrakteur gedoen is voordat die werk afgehandel is. Substandaard herstelwerk is aan die strate gedoen en party van die strate is steeds onbegaanbaar vir gewone motorvoertuie.
Verskeie kwelpunte is uitgelig rakende basiese dienslewering en instandhouding wat nie genoeg aandag geniet nie as gevolg van ‘n blatante ongeërgdheid deur liggame soos die SAPD, munisipale bestuurder en burgemeester.
Hierdie kwessies sluit in die opgradering van Northam se rioolstelsel wat huidig uit ‘n paar verdampingsdamme binne die dorp bestaan. Rou riool loop ook reeds vir etlike jare by ‘n plaas aangrensend aan die dorpsgebied in.
Ander frustrasies wat aan die lig gekom het, sluit in menseregte kwessies, water probleme, straatligte wat buite werking is, geen verwydering van vullis, foutiewe lees van watermeters en onwettige storting van vullis. Volgens ‘n plaasbewoner word sy gwarriegat reeds vir etlike jare onwettig deur die munisipaliteit gebruik om riool sowel as vullis in te stort.
Foutiewe meterlesings lei tot rekenings van oor die R50 000 wat aan inwoners uitgereik word.
Die stortingsterrein in Northam is ongelisensieerd en onwettige storting van vullis is ‘n groot frustrasie.
Die deurlopende waterprobleem dwing inwoners om watertenks op te rig om sodoende lopende water tuis te hê.
Helen Park, wat deur die DA geïdentifiseer is as een van die woongebiede wat deur die munisipaliteit totaal misken word, beskik steeds oor geen water toevoer of riolering nie. Op ‘n stadium wou die munisipaliteit die hele nedersetting, wat slegs uit informele behuising bestaan, platstoot aangesien hulle beweer het dat die mense onwettig daar plak. Die werklike situasie is egter dat die inwoners van Helen Park wettig op die eiendom van die munisipaliteit plak aangesien die HOP huise wat aan hulle toegeken is, deur die munisipaliteit aan ander intrekkers in die gebied gegee is. Alhoewel die myne in die omgewing ingestem het om te help met die oprigting van wateropgaartenks in die woongebied, word dit deur interne politiek binne die munisipaliteit gekniehalter.
Die GOP-vergadering wat verlede jaar belê is, het geen reaksie tot dusver vanaf die munisipaliteit ontlok nie. Tydens die vergadering het die munisipaliteit onderneem om ‘n aparte vergadering te hou om al die kwelpunte aan te spreek.
Daar is ook kapsie gemaak teen die besluit van die Thabazimbi Munisipaliteit dat boorgat-eienaars hul boorgate by die munisipaliteit moet registreer. Registrasiekoste beloop enigiets van R932 tot R2800 per boorgat. Eienaars moet ook op eie onkoste watermeters installeer en sal deur die munisipaliteit aangeslaan word vir die hoeveelheid water wat hulle uit die boorgate onttrek.
‘n Boete van R5000 is ook van toepassing op besighede en gastehuise wat hulle nie as grootmaat waterverbruikers by die munisipaliteit registreer nie.
Sover bestaan daar geen munisipale bywet wat hierdie aksies van die munisipaliteit wettig nie. Volgens Jacques Smalle, die DA Leier van Limpopo, is die manier waarop die boorgat-registrasies geïmplementeer word, onwettig en is onderneem dat hulle onmiddellik ondersoek sal instel.
Die nuwe waardasierol is ook vol teenstrydighede en alhoewel besware daarteen voor of op 12 April gedoen moet word, is geen kennisgewing daarvoor ontvang of in die media geadverteer nie.
Die Leeupoort Eienaarsforum het tydens die vergadering genoem dat die forum in 2011 uitgevind het dat Leeupoort ‘n Natuurreservaat is en dit as sulks wil verklaar. Die munisipale bestuurder het egter erken dat hy nie die kennis het om dit te doen nie, en sloer dus met die proses. Hulle het reeds voorstelle aan hom deurgestuur om ‘n Besturende Forum aan te stel om die proses aan die gang te kry, maar die munisipale bestuurder het nog geen terugvoering daarop gegee nie.
Intussen is honderde stuks wild van die reservaat verwyder en vir minder as R200 000 aan ‘n privaat instansie verkoop. ‘n Aksie wat nie deur die Munisipale Raad goedgekeur is nie en ook tans ondersoek word.
In antwoord op al die kwessies het Steenhuisen gesê dat die munisipaliteit hul duidelik nie aan wetgewing onderwerp nie en dat wetgewing ‘n verantwoordelikheid op plaaslike regering plaas. Verbruikers betaal vir ‘n diens, maar plaaslike regering lewer nie die diens nie. Die DA het ook aangedui dat lede van die parlement die munisipale bestuurder tot verantwoording kan roep en nadat al die kwessies aangehoor is, sal die DA alles in hul vermoë doen om dit te laat gebeur.
‘n Vergadering is op Vrydag gehou om kwelpunte vanuit die Northam gemeenskap te bespreek, op die foto voor vlnr: John Steenhuisen (Skaduminister: Behuising en Tradisionele sake), Jacques Smalle (DA Leier: Limpopo) en Desireé van der Walt (DA Leier: Waterberg Kiesafdeling). Agter vlnr: Rdle Piet Strydom, Bertie Joubert, Derick Daniels en Franco Loots.