Reuse opkoms by inligtingsvergadering
THABAZIMBI – Sowat 220 eiendomsbelastingbetalers het die inligtingsvergadering op 9 April by die Trollope & Trophy Breeder-saal bygewoon. Volgens die organiseerders was dit die grootste getal bywoning sedert 2009.
Ongelukkig is die munisipale Geïntegreerde Ontwikkelingsplan en Begrotingsvergadering vir 2013/14 op dieselfde tydgleuf gehou en kon die DA-raadslede nie die vergadering bywoon nie. Volgens DA-raadslid Franco Loots dra die raadslede egter kennis van die inhoud van die eiendomsbelastingbetalersvergadering.
Gedurende die vergadering is geleentheid onder andere aan die forum se prokureur, Henk Cilliers, gegee om terugvoering te lewer oor die status van die hofgeding tussen eiendomsbelastingbetalers en die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit. Daar word ‘n beroep gedoen op die eiendomsbelastingbetalers om vrywillige bydraes aan die forum te lewer om sodoende die regskoste te dek.
Jan Viljoen, voorsitter van die Thabazimbi Voorsitters Forum, het die teenwoordiges kortliks ingelig oor die verantwoordelikheid van belastingbetalers en die Munisipale Raad, in sake die opstel en goedkeuring van munisipale verordeninge (bywette), asook die huidige proses waar herwaardasie van eiendomme plaasgevind het vir munisipale belasting berekening vanaf 1 Julie 2013.
Die doelwitte en rede vir die stigting van die Thabazimbi Voorsittersforum is ook deurgegee tydens die vergadering. Die primêre doelwit daarvan is om `n verenigde front daar te stel, waar al die verteenwoordigende organisasies in die gemeenskap, sake ten voordeel van die gemeenskap kan bevorder op `n apolitiese basis.
Organisasies wat die gemeenskap verteenwoordig, wat nog nie deel van die forum is nie, word ook ernstig versoek om by die forum in te skakel. Hy dui dan ook verder aan die suksesse wat namens die inwoners behaal is met onderhandelinge, vir die inwoners van Thabazimbi. In alle gevalle het dit gelei tot aansienlike eiendombelastingbesparings.
Voorts is die promulgering van verordeninge bespreek en die eiendomwaardasieproses wat die munisipaliteit so pas afgehandel het, het ook onder die loep gekom.
Die teenwoordiges word dan ook verder ingelig dat die konsepbegroting en Geïntegreerde Ontwikkelingsplan van die munisipaliteit vir implementering 1 Julie 2013 beskikbaar is vir insette deur die inwoners. Viljoen het melding gemaak dat geen afwaartse aanpassing in die belastingtariewe, wat sal geld vanaf 1 Julie 2013, gemaak is nie. Synde in alle eiendomskategorieë, is daar `n aansienlike verhoging in die markwaarde van eiendom. Vir die landbou-sektor eiendomskategorie, het die totale markwaarde meer as verdubbel. Om dieselfde vlak van eiendomsbelasting te verseker, is dit nodig dat die tarief met ten minste die helfte verminder, wat nie gedoen is nie.
Inwoners word versoek om in te skakel by belangegroepe, wat weer op hul beurt by die Voorsittersforum inskakel, om sodoende die behoeftes van die gemeenskap op `n verenigde front, namens die lede, aan te spreek. Stuur ‘n e-pos aan riana@elbro.co.za om die volledige opsomming van die vergadering te ontvang.