Prettige dag vir jongspan
THABAZIMBI – Die Bospatrysies en Graad R-klas van Bosveld Akademie Privaatskool, het op Vrydag 12 April ‘n heerlike pretdag op Bosveld Akademie se sportgronde aangebied.
Talle plaaslike kleuterskole is uitgenooi om aan die ouderdomsgepaste aktiwiteite deel te neem. Die springkasteel, wat loshande altyd ‘n treffer is by pretdae, het oortyd gewerk om al die springende en gillende kleintjies te vermaak terwyl die visvang-, gesigverf en balonne skiet-stalletjies die jongspan vir ure besig gehou het.
Wat sal ‘n pretdag nou wees sonder ‘n lekkernye tafel? Die suikervlakke het omtrent hoog geloop nadat die kleuters hul trommeldik geëet het aan al die heerlike lekkertjies.
Ouers wat die dag meegemaak het, kon vanuit die teetuin die jongspan dophou terwyl hulle smul aan die smaaklike koeke en koel lafenisse wat opgedien is. ‘n Plaaslike fotograaf het op haar beurt die wenners aangekondig van haar babafotokompetisie.
Bosveld Akademie bedank graag elke kleuterskool wat hul pretdag ondersteun het.
Ewan Taljaard van SmartBrain Kidz kleuterskool met sy geverfde haas-gevreetjie.