Man vasgepen – kake van die lewe onbruikbaar
THABAZIMBI – ‘n Man is vir ‘n geruime tyd in sy motor vasgepen nadat die voertuig waarmee hy gery het teen ‘n boom gebots het en die reddingstoerusting om hom uit die voertuig te verlos, buite werking was.
Luidens ‘n mediaverklaring deur die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, het die bestuurder van ‘n Chev sport nutsvoertuig teen ‘n hoë spoed gejaag, beheer oor die voertuig verloor en teen ‘n boom op die middelman in Vanderbijlstraat tot stilstand gekom.
Sy dogtertjie, wat saam met hom in die voertuig was, is deur omstanders na die hospitaal gehaas, voordat die plaaslike ambulans die ongelukstoneel bereik het.
Omstanders het die toneel aan Kwêvoël as skrikwekkend beskryf en hul misnoeë uitgespreek oor die paramedici se gebrekkige vermoë om die pasiënte van hulp te wees.
Volgens die munisipaliteit se mediaverklaring, was die bestuurder van die voertuig in die voertuig vasgepen. Die hidroliese pomp van die brandbestrydingsvoertuig was buite werking en kon die kake van die lewe nie gebruik word nie.
Die pomp is sedert die voorval herstel. Die munisipaliteit vra onverskoning en verseker dat dit nie weer sal gebeur nie.
Daar word ‘n beroep gedoen op die gemeenskap, veral motoriste, om die padreëls na te kom vir hul eie veiligheid.