General

Landbou en mynbou: Meer produseer op minder grond

“Landbougrond, en die spanning tussen landbou en mynbou in Suid-Afrika en wêreldwyd, gaan al hoe meer onder die kollig kom namate dit al hoe moeiliker gaan raak om genoeg kos vir die wêreld se bevolking te produseer op steeds minder beskikbare grond.”

“Navorsing wat die departement van landbou in 2011 gedoen het, het getoon dat ‘n gebied so groot soos die Nasionale Kruger-wildtuin reeds permanent in Suid-Afrika vir landbou verlore gegaan het weens mynbou, verstedeliking en ander ontwikkelings.” So sê dr Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye wat vandeesweek die AgriSA se kongres oor landbou en mynbou in Pretoria geopen het.

Dr Mulder het in sy toespraak verwys na die skaarste van top-gehalte landbougrond in die land, en die groeiende impak wat faktore soos mynbou en landelike ontwikkeling in ‘n toenemende mate daarop het.

Van ‘n provinsie soos Mpumalanga se totale oppervlak is 4,55 miljoen hektaar sogenaamde  graad 1- tot 4 grond. Volgens die klassifikasie-tabel is dit goeie bewerkbare en volhoubare grond wat geskik is vir die kweek van gewasse. Hiervan is 3,17 miljoen hektaar reeds afgestaan aan mynbou en prospektering. ‘n Skokkende totaal van 70% volgens Mulder.

Hy sê mynbou in Suid-Afrika was die grootste dryfkrag agter die ontstaan en ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika as ‘Afrika se mees gevorderde en rykste ekonomie’. Terselfdertyd speel landbou ‘n uiters belangrike rol betreffende voedselvoorsiening en landelike ontwikkeling wat van kritieke belang is vir die land se sosiaal-ekonomiese en –politieke stabiliteit. Die vraag is hoe hierdie twee aktiwiteite in belang van Suid-Afrika en die toekoms teenoor mekaar gebalanseer word.

Suid-Afrika se oppervlak beslaan 122 miljoen hektaar grond waarvan sowat 100 miljoen hektaar, of 82.3%, as ‘landbougrond’ geklassifiseer kan word. Hoë kwaliteit landbougrond wat geskik is vir intensiewe voedselproduksie in Suid-Afrika beslaan egter net 12,75 miljoen hektaar – dit is slegs sowat 13% van die land se totale oppervlak.

Gegewe Suid-Afrika se eiesoortige klimaatsomstandighede, word 98% van die oppervlak geklassifiseer as gebied met ‘ernstige beperkings’. Dit is weens faktore soos klimaat (reënval), grondoppervlak en -kwaliteit. Hierdie is half-woestyn en woestyngebiede soos die Karoo en die Kalahari-woestyn.

Navorsing toon aan dat die wêreld se graanproduksie sedert 2008 drie keer minder as die aanvraag was. Die globale landboumarkte is ook so wisselvallig dat dit van die grootste belang is dat Suid-Afrika in toenemende mate na homself sal moet omsien was voedselsekerheid aanbetref.

Volgens dr Mulder is die effek van die skaarste van landbougrond ‘n wêreldwye probleem. Internasionaal het voedselskaarste toegeneem van 800 miljoen mense in 1996 tot 925 miljoen in 2011. Met die wêreldwye bevolkingsgroei word bereken dat teen die jaar 2030 ‘n bykomende 20 miljoen hektaar landbougrond ontgin sal moet word ten einde genoeg voedsel te kan produseer.

Teen 2050, wanneer die wêreldbevolking 9 miljard bereik, sal ‘n bykomende 1 miljard ton graanprodukte en 200 miljoen ton vleis geproduseer moet word om huidige voedselvoorsiening te handhaaf. Navorsing wat in 2005 in Suid-Afrika gedoen is, dui daarop dat 51,6% van alle Suid-Afrikaners al honger gely het en dat slegs 20,2% geen voedselgebrek ly nie.

Onlangse navorsing van die Waternavorsingskommissie en die Mediese Navorsingsraad het bevind dat ten minste 20 miljoen Suid-Afrikaners van alle ouderdomme honger en ondervoed is.

Tog moet die ekonomiese belangrikheid van die mynbousektor in Suid-Afrika nie misken word nie, sê dr. Mulder. Die land se totale minerale reserwes is van die waardevolste ter wêreld, met ‘n geraamde waarde van R20,3 triljoen.

“Die sektor voorsien werk aan 1,3 miljoen mense. Dit is 2,7% van die land se totale werkkrag. Dit genereer meer as 50% van die land se valuta, lok beleggers en verskaf 13,2% van Suid-Afrika se  korporatiewe belasting-inkomste.”

Hy sê om die situasie in Suid-Afrika deeglik te bestuur, is twee woorde veral belangrik. Dit is beskerming en verantwoordelike bestuur.

Dit is die staat se plig en verantwoordelikheid deur die departement van landbou, bosbou en visserye, om deur wetgewing en ander maatreëls toe te sien dat grond behoue bly en bewaar word vir die toekoms. En dit is die plig van die landbouers om die kosbare lewensbron wat in hulle besit is, verantwoordelik te bestuur, sê dr. Mulder.