Spitskop Special Needs skool

THABAZIMBI – Die eerste kwartaal is verby en Spitskop Special Needs Skool skud reeds sy vere reg vir die volgende kwartaal. Alhoewel daar ‘n paar groeipyne was, verdien die skool tog ‘n applous vir dit wat reeds bereik is.

Opleiding aan personeel vind op ‘n deurlopende basis plaas en daarvoor word spesialiste op die gebied van “special needs” kinders ingespan. Hierdie leerdertjies is baie gelukkig in ‘n omgewing waar hulle op alle vlakke gestimuleer en ondersteun word.

Me Heleen Johnson is onlangs aangestel as Hoof van die skool en deur hierdie aanstelling is daar dus ‘n voltydse Arbeidsterapeut op die perseel.

Joshua Potgieter het op 15 Maart sy 7de verjaardag gevier by die skool, en maak so geskiedenis deur die eerste verjaardagmaatjie van dié skool te wees. Leerders het almal vir hulself krone gemaak in die kunslokaal onder leiding van mnr Bryan om hierdie geleentheid feestelik te maak.

Intussen groei die Spesiale Klas met rasse skrede en verwelkom hulle graag ‘n nuwe toevoeging tot die onderwysers. Juf Betty Maopa is onlangs aangestel en behartig saam met Juf Lina Landsberg hierdie spesiale kinders.

Die skool het ook twee nuwe ryperde, Savanna en Dreamer, ryker geword wat ‘n reuse terapeutiese bydrae lewer.

Die skool bedank graag die gemeenskap vir die ondersteuning, donasies en belangstelling.

Besoek gerus hul webwerf by www.spitskopspecialneedsschool.com vir meer inligting. Navrae kan gerig word aan Salomien Snyman by 0724633657 of Sanet Basson by 0826862473.

14-Spitskop 1

Joshua, Special Needs School se heel eerste verjaardag-maatjie.