Community

VLU Inspireer en verryk

Deur Elana Greyling

LEPHALALE – Lede van Bosveldstreek is beslis geïnspireer en verryk tydens die 18de konferensie aangebied deur Ellisras- en Skemertakke.

Die 18de konferensie van Bosveldstreek is geopen deur mev Tharina Rossel, presidente van VLU Noord en groete boodskappe is vir oulaas oorgedra deur die uittredende streeksvoorsitters van Koraal en Soetdoring, mev. Leanda le Cornu en Kollie Esterhuizen.

Die opwindende jong skrywer, digter, skilder en beeldhouer, Carina Stander het gaste in vervoering gehad met haar woordkuns. Hierdie boorling van die Waterberge, spesifiek Ellisras, het voorgelees uit haar digbundels en roman. “Ons kan ons inspirasie oral om ons vind, in ons geloof, in die mense om ons en in die natuur,” sê sy. As kind het sy begin teken en verf met ou teesakkies en beetblare en haar eerste beelde uit miershoopklei gemaak. “Elke oggend moet ek eers na die wilde plek in my gaan, voor ek weer deel word van die sisteem,” verduidelik sy, terwyl sy gesels oor die VLU tema van die jaar, ‘Inspireer en verryk’. Sy het die dames aangemoedig om hulle self oop te maak vir inspirasie en om so ook ander om hulle te inspireer.

Verkiesing is gehou, met mev. Annetjie Dreyer van Northam-tak wat as die nuwe streeksvoorsitter verkies is en mev. Joan Beukes van Steenbokpan-tak wat die nuwe skakelbeampte is om oor te neem by mev. Hannie Yssel.

Mev Elize Pretorius, uittredende voorsitter van Bosveldstreek, het soos gebruiklik, haar top lede en takke beloon. Die VLU-lid van die jaar-toekenning gaan aan ‘n gewone lid wat die gees en beeld van die VLU vergestalt en uitdra, en gaan in 2013 aan mev. Bettie Pistorius van Ellisras-tak. Die Skakelbeampte van die Jaar was Maritsa Jacobs van Beauty-tak. Die trofee vir Top Tak gaan aan Northam tak, met Beauty in die tweede en Alma in die derde plek.

Die wenner van die trofee vir die Tak met die meeste punte was Alma, met Beauty weereens in die tweede plek en Ellisras-tak derde. Ellisras-tak het die Blomme-trofee verower.

Die lid met die hoogste punte was Mari Meintjes van Northam-tak, met Annelize Maritz van Ellisras tweede en Annette Swart van Alma in die derde plek. Mari Meintjes het ook die meeste punte in die provinsiale- en streekskompetisies verower. Die lid met die meeste pryswennende artikels was Mari Meintjes van Northam, Di York van Alma.

Die lid met die hoogste punte vir ‘n enkele tak was Ria Thuynsma van Ellisras vir haar blomme, wat haar ook die prys vir hoogste totaal in Blomme verower het. Die hoogste totale in die ander kategorieë was as volg: Borduur en Hekelwerk – Mara Lottering (Beauty), Breiwerk – Maryna Olivier (Ellisras), Handvlyt – Estie Nortje (Beauty), Gebak – Katinka Heyns (Ellisras), Masjienwerk – Hannie Yssel (Alma) en Preservering – Miemie Marx (Alma).

13-VLU Konferensie 2

Bosveldstreek se nuwe bestuur: Annelize Maritz (Hulp beoordelaarsameroepster), Joan Beukes (Nuwe Skakelbeampte), Ilana Venter (Beoordelaarsameroepster), Katinka Heyns (Sekretaresse en tesouriere), Annetjie Dreyer (Nuwe streeksvoorsitter) en Hettie Vermaak (Vise-voorsitter) (Afwesig – Martie van den Berg – Vise voorsitter)