Vermaak jouself
Week 13 – 29 March 2013
Kommentaar deur die Redakteur, Pieter Coetzee:
Dit is skoolvakansie en daarmee saam is daar hope vakansiedae vir die mense wat nie vir die skoolvakansie weg kon gaan nie. Verveeld hoef niemand te wees nie, glo my vry, daar is baie om te doen in en om Thabazimbi.
Is die kinders verveeld by die huis? Jaag so ‘n bietjie kreatiwiteit in hul are en raak skoon “Europees” met die paaseiers. ‘n Uitdaging is nooit te versmaai nie. Vergeet maar van daai “crack” en “get cracking” om jou eie paaseier te versier. Ma’s wat weet hoe, kan vinnig op die internet klim en ‘n paar ideë kry. Raak kreatief in plaas daarvan om met ‘n dikmond te sit oor pa en ma wat nou meer by die huis is en inbreuk maak op jou vrytyd(?) – Het jy al ooit probeer om ‘n klein gaatjie in ‘n eierdop te maak, alles binne uit te blaas (suig) en die leë dop met allerhande blinkers te versier, reg vir die kersboom die einde van die jaar? Maak sommer ‘n hele klomp en plak dit oor die kersliggies. (Hanteer versigtig!)
Raak vir ‘n slag as gesin betrokke en hou ‘n piekniek. Pak die piekniekmantjie en maak ‘n draai by die Marakele Predator Centre (tel: 071 597 7752/082 323 2456) waar daar heelwat meer as net wit leeus te siene is. Selfs ‘n swembad en klimrame om die kinders besig te hou terwyl pa die braaivuur aanslaan.
Dieselfde piekniekmantjie kan jy pak vir Marakele Nasionale Park se Piekniek plek in Kwaggasvlakte, passop net vir die witrenosters wat vry in die veld om jou rondloop. Gaan gesels sommer met die personeel by die hek en hoor hoe jy vir jou en jou gesin ‘n jaarkaartjie kan kry wat dit die moeite werd maak om elke naweek ‘n draai daar te maak.
As jy dink dit is te veel moeite, ry gerus uit na Van Ross (tel: Laurette 083 542 5412), die ideale plek vir die kleiner kinders. Hier kan hulle direk in kontak kom met al die kleindiertjies en kleinvee wat jy op ‘n plaas aantref. Kry ‘n Pizza en ‘n glasie wyn en die gesin kan heerlik in die vars bosveldlug ontspan.
Bou jou eie warmluglantern en kyk hoe dit draai en draai soos dit al hoër gaan totdat die vlammetjie verdof. Op die internet sal hulle presies vir jou verduidelik hoe om die lantern te bou. Gelukkig het dit gereën en sal jy nie sommer die veld aan die brand steek nie.
As jy natuurlik dink dat alle vermaak vir jou gratis op jou voorstoep afgelaai moet word, trek eerder terug stad toe en kyk wat dit kos om vermaak op jou voorstoep te kry.
Mag julle “Huisvriend” julle in die toekoms verder dra met nuus en alles wat in die gemeenskap gebeur. “Selah.”