Vergadering oor boorgate
Deur Jan Viljoen (Voorsitter, Thabazimbi Voorsitters Forum)
THABAZIMBI – `n Vergadering word beplan vir Dinsdag 9 April 2013 om 18:00 by die Trollope & Trophy Breeder saal deur die Thabazimbi Voorsitters Forum.
Die Forum se regsverteenwoordiger, Henk Cilliers sal tydens die vergadering teenwoordig wees om boorgat eienaars terugvoering te gee oor die vordering wat gemaak is met die saak teen die Thabazimbi Munisipaliteit wat eienaars wederegtelik forseer om boorgate te registreer.
Geleentheid sal ook gebied word om vrae aan Henk te stel om meer duidelikheid oor die vordering van die saak te wete te kom.
Alle inwoners word uitgenooi om die vergadering by te woon synde die uitkoms van die saak `n wesenlike invloed het op toekomstige aksies van die munisipaliteit.
Geregtelike optredes kan slegs plaasvind waar die nodige goedgekeurde bywet in plek is. Die vereiste word gerieflikheidshalwe verontagsaam om die publiek te intimideer. Hiervan kan ook getuig word waar gastehuise se elektrisiteitsvoorsiening in Desember 2012 afgesny is. Klaarblyklik het die eienaars nie voldoen aan vereistes daargestel deur die Thabazimbi Munisipaliteit nie. `n Aksie wat plaasgevind het sonder inagneming van prosedurele korrektheid deur die munisipaliteit.
Ten opsigte van die boorgat registrasie, is daar `n hofbevel verkry, met koste teen die munisipaliteit op 21 Desember 2012. Die hofbevel maak voorsiening dat kragtoevoer nie afgesny mag word tot tyd en wyl die saak opgelos is nie. Na die bevel verkry is, het die munisipaliteit appèl daarteen aangeteken. Verskeie briewe het sedertdien gewissel tussen die partye asook `n vergadering is gehou waar die Burgemeester en Munisipale Bestuurder teenwoordig was. Weereens tydens die vergadering was daar `n ernstige versoek vanaf die Forum dat die saak buite die hof besleg moet word, synde dit net koste van die geding verhoog. Hierdie versoeke het op niks uitgeloop nie
As u `n boorgat eienaar is, is dit belangrik dat u die vergadering bywoon. Die Forum vertrou dat hulle op die gemeenskap kan reken. Inwoners kry hier die geleentheid om eerstehands inligting te bekom en deel te neem aan die proses. Die saak is belangrik om die munisipaliteit te dwing om te funksioneer binne die raamwerk daargestel deur bywette.