Community

Plaasdiefstal neem toe

THABAZIMBI – ‘n Toyota dubbelkajuit bakkie is verlede naweek in die vroeë oggendure vanuit ‘n bekende sakeman se plaaswerf, reg voor die besigheid se kantoor gesteel.

Die plaas is in die Wachteenbietjesdraai area op die Brits-pad. Talle voorvalle van hondevergiftiging en plaasdiefstal is reeds vanjaar vanuit hierdie area gerapporteer.

Na wat berig word, het ‘n jong man wat oppad was na sy werk, die bakkie in die paadjie na ‘n ander plaas opgemerk. Twee mans het uitgespring en weggehardloop.

Die eienaar van die bakkie is vroegoggend inkennis gestel dat sy bakkie gevind is. Hy het hom na die toneel gehaas en hom tromp-op vasgeloop in nog drie mans wat moontlik die besigheid se trok ook wou steel of moontlik diesel by die besigheid se pomp wou tap.

Die eienaar van die bakkie het op hulle geskree en hulle het gevlug deur die draad wat reeds geknip was.

In die bakkie is ook gesteelde goedere wat op buurplase gebuit is gevind, asook gereedskap wat ‘n skroewedraaier en elektriese draad ingesluit het, in ‘n sakkie ontdek.

Niemand is tot dusver vir die diefstal gearresteer nie. Die ondersoek duur voort.