Community

Gee vir ons goeie leiers, vra DA

Die DA-leierskap in Limpopo het vandeesweek geëis dat die regering bekwame leiers in Limpopo aanstel ná die nuus dat die provinsie se uitvoerende komitee die trekpas gekry het.

Desirée van der Walt, DA-koukusleier in die Limpopo-wetgewer, het aan Die Pos gesê: “As DA glo ons in die verdeling van magte — staat en party — soos in die grondwet omskryf. Daarom beskou ons die ontbinding van die ANC se uitvoerende raad in Limpopo as ’n interne partykwessie.

“Ons is egter op rekord dat ons al die kop van premier Mathale en lede van sy kabinet op verskeie geleenthede geëis het.

“Ek het in my reaksie op Mathale se provinsiale rede verlede maand weer geëis dat hy en sy kabinetkollegas, wat nie gehalte dienslewering aan die inwoners van Limpopo as prioriteit beskou nie, self moet bedank en nie moet wag tot hul party hul afdank nie.

“Ons eis dringend ’n kabinetskommeling om veral noodsaaklike departemente soos onderwys, gesondheid en plaaslike regering en finansies reg te ruk.”

Van der Walt het ook verwys na verskeie klagtes wat by die Openbare Beskermer, die Valke, en die Menseregtekommissie ingedien is weens beweerde korrupsie in die provinsiale regering.

“Ons gaan hierdie soort situasie net verander as bekwame mense in poste aangestel word en politici verkies wat werklik omgee.” — LiN Nuus/Die Pos