ATKV Thabazimbi pak nuwe jaar aan
THABAZIMBI – Die ATKV Tak Thabazimbi het op 4 Februarie 2013 hul derde takjaarvergadering in die Dewside Restaurant in Vierdelaan gehou.
Rita Volschenk het tydens hierdie vergadering, na ‘n termyn van twee jaar, as voorsitter uitgetree. Haar Bestuur kon saam met haar terugkyk op ‘n uiters vrugbare en suksesvolle termyn. Nie alleen is ‘n Jeugtak by Hoërskool Frikkie Meyer volstoom laat loop nie, maar ook verskeie aksies is in die gemeenskap aangepak en afgehandel. Onder andere ‘n poësieskryf-kompetisie vir alle vlakke skoliere asook vir volwassenes.
Met die goeie opbrengs van ‘n geslaagde gholfdag kon ook ‘n ruim skenking aan die Tambotie Versorgingsentrum vir Verswakte Bejaardes gedoen word. Heelwat van hierdie aksies sal gedurende die nuwe termyn voortgesit word.
Rita Volschenk sal haar voortaan net op die KunsteGrot toespits en daar word met groot afwagting na verskeie optredes deur bekende kunstenaars uitgesien.
Die nuut-verkose ATKV Bestuur vir Thabazimbi is verkies op 4 Februarie, agter: (staande): Vollie Volschenk en Franco Loots – addisionele lede. Middel (sittend): Diana Odendaal (tesourier), Ds Dirk Laufs (voorsitter) Rita Volshenk (addisionele lid) Linda Grobler (ondervoorsitter), Marì van Jaarsveld (sekretaresse) en Rina Stander (addisionele lid). Voor: Annelie Lee (addisionele lid).