Community

50 jaar in bediening vir Herderspaar

THABAZIMBI – Dominee Jan Viljoen (77) van die AP Kerk, herdenk vanjaar sy halfeeu in die bediening nadat hy as Proponent in 1963 ‘n beroep na Villiers aangeneem het en op 23 Maart deur die gemeente ontvang en bevestig is.

Dominee Viljoen, gebore te Bloemhof, het in 1952 aan die Hoërskool Brandfort gematrikuleer waarna hy deeltyds aan die Universiteit van Oranje Vrystaat studeer het. Hy verwerf sy BA (Hons) Graad en voltooi sy teologiese opleiding aan die Teologiese Seminarium van Stellenbosch waarna hy op 6 Desember 1962 gelegitimeer word.

In dieselfde jaar word hy op 29 September met Helena Emilia van Sandwyk van Harrysmith in die huwelik bevestig.

Gedurende ds Viljoen se bedieningsjare aanvaar hy talle beroepe wat hom en sy gesin na verskeie gemeentes regoor die land neem. As Pastorievrou, beskryf Dominee sy eggenote as die vrou van Spreuke, met waarde ver bo korale, wat saam met hom hard gewerk het om elke huis te besoek.

Die egpaar het ook ‘n groot verlies in hul lewe gehad met die tragiese afsterwe van hul oudste seun, Daniël Petrus, nadat hy in die myn verongeluk het. Ook het hulle die stigting van die AP Kerk beleef na groot ongelukkigheid in die NG Kerk. Nadat sy gemeente finansieel begin swaartrek het ontvang ds Jan demissie by emeritaat op 30 September 1995, maar bly nog beroepbaar op versoek van die kerkraad en met ds Jan se instemming.

Sy gemeentes sluit in Krugersdorp Suid, Vryheid Oos, Willowmore, Brits, Koedoeskop, Matjiesfontein, Steenbokpan, Mooinooi en op 31 Mei 2009 word ds Jan as medeleraar by die AP Kerk Thabazimbi op ‘n kontrakbasis van ses maande bevestig. Op 18 September 2011 ontvang hy akte van demissie en op die oomblik preek hy nog op ‘n ad hoc basis vir die gemeente, sowel as vir die AP Kerk Vaalwater.

Ds Jan word bedank vir al sy pastorale werk, vir sy bystand wat hy gegee het waar dit nodig was, vir die siekes wat hy besoek het en ook aan hulle wat geliefdes aan die dood moes afstaan, vir sy werk as huweliksberader, vir almal wat hy gehelp het om die Here Jesus te vind, vir gebede, vriendskap en ‘n leraar waarop die gemeente kon staatmaak.

12-Ds Viljoen

Ds Jan en sy eggenote, me Leentjie Viljoen, herdenk sy vyftigste jaar in die bediening en die egpaar vestig hulle tans te Buffelshoek.