Sakeman in sop ná klopjag op skrootwerf

Die eienaar van ‘n skrootwerf in Makhado (Louis Trichardt) word deur die polisie gesoek oor  beweerde gesteelde motors en motoronderdele wat by sy onderneming gevind is.

Dit polisie het reeds die afgelope naweek drie van die man se werknemers in hegtenis geneem en op sewe BMW’s en nog talle onderdele en enjins beslag gelê. Daar word, volgens die polisie se provinsiale kommunikasiekantoor, vermoed dat dié BMW’s en onderdele in Gauteng gesteel is.

Waspa Majiri (21), Fulufhelo Malada (28) en Takalani Tshaamano (23) het Maandag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn. Hulle is elkeen op R2 000 borgtog vrygelaat. Hulle sal weer op 13 April in die hof verskyn. Die eienaar se identiteit is bekend aan die polisie, maar kan nog nie bekendgemaak word nie totdat hy in hegtenis geneem en aangekla word.

Die skrootwerf is bekend as BMW Specialist en geleë in Noordwesstraat. Daar was Woensdag nog aktiwiteit by die skoortwerf, wat grens aan die Tshikota-woongebied. Drie mans het langs ‘n insleepvoertuig voor die ingang van die perseel gesit en eet. Hulle het aan die Zoutpansberger se verslaggewer bevestig dat hulle daar werksaam is. Hulle was baie verbaas om te hoor dat die polisie nog opsoek is na hul baas. Die drie mans het ook geweier dat daar ‘n foto van die perseel geneem is en het ‘n prokureur, wat homself nie geïdentifiseer het nie, gebel om met die verslaggewer te praat. “Nee, jy kan nie foto’s neem nie; dit sal ons saak nadelig beïnvloed,” het dié man oor die selfoon gesê.

Volgens die polisie se provinsiale woordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, is die voertuie waarop beslag gelê is etlike miljoene rande werd. “Die voertuie is as gesteel aangemeld in Sandton, Pinetown, Meadowlands, Kaapstad, Durban en Mamelodi,” het Mulaudzi gesê.

Onderdele soos deure, ligte en enjins was alreeds verwyder vanuit dié voertuie. Mulaudzi het Woensdag bevestig dat die eienaar nog nie gearresteer is nie. (LiN Nuus / Zoutpansberger)

11-Skrotwerf

Van die BMW-voertuie waarop die polisie beslag gelê het by die skrootwerf in Noordwesstraat. Foto verskaf.