Community

Aasvoëls vind baat by nuwe vlughok

Ná ure se harde werk en sweet kan die Blouberg Natuurreservaat nou met ‘n nuwe vlughok vir hul reeds-bekende aasvoël-rehabilitasieprojek spog.

Die nuwe vlughok was die breinkind van die Vriende van Blouberg-groep (VvB), ‘n nie-winsgewende organisasie wat in samewerking met die BirdLife Soutpansberg Voëlkykersklub op die been gebring is. VvB is spesifiek gestig om die natuurreservaat by te staan en te help geld insamel vir projekte waarvoor die reservaat se staatsbegroting nie voorsiening maak nie.

VvB steun veral op borge van privaatinstansies en die helpende hande van vrywilligers. Dit is ook hoe die nuwe vlughok die lig gesien het. Vrywilligers van VvB het hier en daar ‘n tydjie afgeknyp en self die hok gaan bou op die reservaat.

Blouberg Natuurreservaat staan tans aan die voorpunt van die bewaring van aasvoëls, en meer spesifiek die bedreigde kransaasvoël wat op die hange van Blouberg nes maak. Die reservaat het meer as 10 jaar gelede ‘n projek begin waarin plaaslike gemeenskappe betrek en vergoed word ten opsigte van die bewaring van aasvoëls. Aasvoëls, wat gesog is vir muti-mengsels, word van die gemeenskap teruggekoop, gesond gemaak en weer in die natuur vrygelaat.

Op Saterdag, 9 Maart, het die VvB amptelik die nuwe vlughok oorhandig aan die reservaat. Die geleentheid is ook bygewoon deur die kameraspan van die bekende KykNet program, Projek Aardwolf. Dié projek toon sedert 2010 ‘n lewendige belangstelling in die reservaat se bewaring van aasvoëls.

Die nuwe aasvoëlvlughok sal die reservaat in staat stel om meer aasvoëls te rehabiliteer. Daar het juis Saterdag met die kameraspan se besoek, ‘n aasvoël wat in ‘n reënbui gestrand geraak het in die nuwe hok gebly . ‘n Plaaslike inwoner het die aasvoël die oggend opgetel nadat hy nat gereën het en nie verder kon vlieg nie. Die aasvoël sal nou vir so ‘n rukkie onder die wakende oog van reservaatbestuurder mnr. Johan van Wyk bly, waarna hy gemerk sal word en weer in die natuur vrygelaat sal word.

Lesers kan na ‘n kort videogreep gaan kyk by www.zoutpansberger.co.za hoe Gerd Botha, die hoof ontwerper van die hok, vertel van die rehabilitasieprogram wat aasvoëls volg as hulle na die reservaat gebring word.

Na afloop van die oorhandiging het die reservaat en die VvB die volgende borge bedank vir hul hulp en bydraes: Vonitel, Pro Pumps@Construction, NTK Vivo, Mooirivier Apteek, Water 2000, Figtree Saagmeule, Harcourts Louis Trichardt, Enviro Revive, Stefanutti, KuneMoya en Sabre Construction. (LiN Nuus / Zoutpansberger)

11-Aasvoël

Mnr. Gerd Botha (links) oorhandig die nuwe vlughok aan die reservaatbestuurder, mnr. Johan van Wyk.