GeneralTop Stories

Renosters: Dis OORLOG!

Andries van der Heyde

 

Twee vermeende renosterstropers het die afgelope week op hul herrie gekry.

Die twee is op Woensdag, 27 Februarie, in hegtenis geneem op aanklagte van renosterhoring-stropery toe hulle glo ’n privaatnatuurreservaat buite Bela-Bela probeer betree het. Hulle het die volgende dag vlugtig in die hof op Bela-Bela verskyn.

Die taakspan van Protrack Anti-poaching, in samewerking met die polisie, het op die vermeende stropers toegeslaan.

Volgens Andrew Warren van Protrack is daar beslag gelê op ’n .300 Winchester-jaggeweer, ’n byl en twee messe.

Saam met dié twee, is daar net in Februarie vanjaar reeds 15 mense op soortgelyke klagtes aangekeer, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.

Die verdagtes moet weer op Dinsdag, 12 Maart, in die hof wees vir hul borgaansoek.

Warren wil graag die taakspan en almal wat betrokke was by die operasie bedank vir hul bydraes en tyd wat hulle afgestaan het.

In ander stroperverwante nuus, het die polisie vroeër in Februarie vyf verdagtes agternagesit by Letaba Ranch teenaan die Krugerwildtuin. Twee mans is gevang en drie is doodgeskiet. Twee ander verdagtes is ook vroeër die maand in hegtenis geneem by die Nwanedi-wildreservaat, ook in Limpopo.

Op Phalaborwa is vyf verdagtes verlede week in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op vier ongelisensieërde vuurwapens, een AK-47, ’n pistool, drie messe en twee voertuie.

Al die verdagtes is tans in aanhouding.

10-poacher 2

 Twee vermeende renosterstropers lê op die grond nadat ’n taakspan op die reservaat toegeslaan het.