Community

Bekende sakeman oorlede

THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner en besigheidsman van Thabazimbi, Adam Barnard, is Donderdag 28 Februarie skielik oorlede terwyl hy en sy seuns besig was om lusernbale, op die plaas waar hulle net buite Brits gewoon het, af te laai.

Volgens sy vrou, Daleen, was sy by die huis toe een van die seuns haar uitasem kom roep het dat daar fout met Adam is. Sy het haar na hom gehaas waar hy op die grond gelê het, en onmiddellik begin om hartmassering en kunsmatige asemhaling toe te pas.

Adam, sy oudste seun, het in die bakkie gespring en hulp ontbied. Teen die tyd wat hulp opgedaag het was dit reeds te laat.

Die gesin was drie maande gelede die slagoffers in ‘n plaasaanval op dieselfde plaas. Tydens die aanval is Adam met ‘n yster op sy been gebrand terwyl sy oom, Herkkie Barnard noodlottig gewond is. Sy ouma is ook erg aangerand en sy neef is met ‘n skerp voorwerp in die kop gesteek. Sy oom, Nico Barnard, word steeds in die hospitaal behandel vir skietwonde opgedoen in die voorval. Die booswigte het met kontant en die gesin se bakkie op die vlug geslaan. Die bakkie is teruggevind maar die verdagtes is steeds op vrye voet.

Adam het gedurende 2002 Thabazimbi toe getrek waar hy vir Siemens op Northam Platinum as IT Ingenieur gewerk het. Hy het daarna sy eie besigheid, Ukukola Konke gestig en die bestaande kontrak oorgeneem het. Daarna het hy ook The Hive, ‘n internetkafee, op Thabazimbi geopen. Daleen is van voorneme om die besigheid voort te sit.

Adam laat Daleen, sy twee seuns, Adam (14) en Jacobus (12) agter. Die begrafnis was Donderdag 7 Maart in Pretoria.

HP DIGITAL CAMERA

Adam Barnard, bekende besigheidsman in die omgewing, is Donderdag 28 Februarie skielik oorlede.