Mooi so – Frikkies!
Hoërskool Frikkie Meyer maak geskiedenis
MODIMOLE – Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi het vanjaar voortgebou aan hul segetog deur vir die derde agtereenvolgende jaar as wenner van die jaarlikse Interhoër Atletiekbyeenkoms uit die stryd te tree. Altesaam ses skole in die streek het aan die Interhoër byeenkoms, wat vanjaar deur Hoërskool Nylstroom aangebied is, deelgeneem.
Vir Frikkie Meyer was dit behoorlik ‘n trofeë-oes met agt van die veertien trofeë wat hulle saam huis-toe gebring het. Dit was nie net die atlete wat vir die sege gesorg het nie maar ook die toeskouerleerlinge wat bankvas agter hulle gestaan het. Op die paviljoen was hulle ‘n inspirasie vir die atlete op die veld en hulle het ook eervol verseker dat die sangbeker onder die trofeë was wat terug gebring is.
Frikkie Meyer het met ‘n totaal van 600 punte gewen, 150 punte meer as Piet Potgieter wat tweede was. Hoërskole Ben Viljoen en en Nylstroom, elk met 435 punte het saam derde geëindig. Hoërskool Warmbad (370 punte) was vierde gevolg deur Hoërskool Ellisras vyfde met 357 punte en Hoërskool Hans Strydom met 330 punte.
Frikkie Meyer atlete het ook daarvoor gesorg dat twee rekords verbeter is. Abrie du Plessis stel ‘n nuwe byeenkomsrekord op vir diskus So/19 en Michelle van der Sandt sorg vir ‘n nuwe rekord vir gewigstoot D0/15.
Die tema van “Legends of Awesomeness” het daarvoor gesorg dat die atlete op die veld en die dirigente die beste uit die toeskouers op die paviljoen gehaal het om die tema gestand te doen.
Die trofeë wat Frikkie Meyer huis-toe gebring het was: Junior Seuns, Junior Dogters, Senior Seuns, Seun Aflosse, Beste Dogterspan, Beste Seunspan, Groottotaal en Interhoërsang. Verder het Frikkie Meyer 34 eerste-, 33 tweede-, 18 derde-, 22 vierde-, 19 vyfde- en 10 sesde-plekke verower.
Hoërskool Warmbad was kort op die hakke van Frikkie Meyer met die sangbeker. Frikkie Meyer wen dit egter met ‘n oortuigende 335 teenoor 330.
Die skool bedank al hul afrigters wat vir die afgelope vyf maande baie sweet ingesit het om die dag so ‘n groot sukses te maak, asook al die ouers wat die leerlinge so bygestaan en ondersteun het.
Baie van die ouers van atlete en ondersteuners het ook van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie weg te breek en het Saterdagaand by van die vakansieoorde in die omgewing gaan ontspan.
Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi het vanjaar daarin geslaag om die Interhoër Atletiekbyeenkoms vir die derde agtereenvolgende jaar te wen. Vir die eerste keer in die skool se geskiedenis het hulle nie net die Interhoër gewen nie, maar was hulle ook die wenners van die sangbeker. Op die foto is die aankoms van die “Legends of Awesomeness” dirigente by die atletiekveld.