Editorial

Skop daai deur af

Week 7 – 15 February 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee

Spesiale dae laat partykeer ‘n wrang smaak in die mond, veral as dit kom by die verwagtinge wat op ander geplaas word om jou dag gelukkig te maak. Kersfees is so ‘n dag van groot uitgawes. Iets wat ons miskien self veroorsaak het in die gees van welwillendheid. Dit is tog lekker om iemand te trakteer en daarby verras met ‘n geskenkie. Ongelukkig kan dit jou sak diep raak.

Kyk hierby verby na meer praktiese oplossings soos om net kwaliteit-tyd saam met jou gesin, geliefdes en vriende deur te bring in die gees van welwillendheid en die prentjie kan baie verander. So is daar ook Valentynsdag wat deur baie van die ouer geslag as blote bog afgemaak is. Bog solank iemand verwag dat jy ‘n kaartjie moet gaan koop wat anoniem aan jou gerig word of eerder iets uitspattigs soos ‘n duur geskenk om te wys dat jy omgee. In baie van hierdie gevalle raak die gees van die werklike boodskap, naamlik dat jy omgee en lief is vir die persoon, so verstringel in die prosedure en etiket van die geleentheid dat alles op die einde soos ‘n halfgebakte soufflé, waarvan iemand die oonddeur skielik oopgeruk het, plat val.

Ons het so min dae wat ons iets anders kan doen as die vakansiedae wat deur die regering uitgeroep word en waar van die totale bevolking verwag word om na stadions te stroom en na die regering se beleidspraatjies moet sit en luister. Een so ‘n dag wat anders as ‘n gewone vakansiedag is, is Valentynsdag. Skop daai deur af met al sy etikette en doen iets anders, maar tog met dieselfde boodskap wat oorgedra word.

Reik uit, wys dat jy werklik omgee oor die lief en leed van jou geliefdes, jou vriende en die mense waarmee jy iets besonders deel. Moenie alleen voel nie. Wat is nou lekkerder as om die aand saam met jou beste pêl om die braaivloeisvuur deur te bring en so ‘n bietjie te praat oor die ervaringe wat julle saam gedeel het. Skop daai deur af.

Valentynsdag hoef nie net oor die liefde te gaan nie. Waar kry ons in elk geval in ons gejaagde lewe kans om romanties in jou eie omgewing te verkeer en te probeer om die kinders se gebabbel en teenwoordigheid te ignoreer. Net so die normale lawaai wat van die bure af kom. Moenie jouself inhok nie. Skop daai deur af en doen iets saam met jou vriende of familie waar die buurman se lawaai jou nie gaan pla nie. As jy nie ‘n rustige plek kan kry nie, geniet die samesyn en maak meer lawaai as beide jou bure saam!

Gister in die supermark het ‘n ma, wat met haar twee seuntjies agter my gestaan het, verduidelik dat die pienk gholfhemp en die pienk kouse wat ek aanhet (ek het nie rooi klere in my klerekas nie) nie gewoonlik gedra word nie maar dat Valentynsdag die geleentheid daarvoor bied. Die twee wou toe dadelik hul Blou-bul hemde uit die kas gaan ruk en aantrek sodra hulle by die huis kom. Selfs die Blou Bulle het al daai deur afgeskop en ter wille van meelewendheid hulself in pienk uitgedos. Wys net, jy kan die Blou Bulle nie heeltyd in die kas prober toesluit nie, hulle het ook hulle hoogtepunte.

Deur ons andersheid kan ons dalk sien hoe baie ons eintlik dieselfde is. Skop daai deur af en wend eerder ‘n poging aan om Valentynsdag, die een dag in die jaar wat oor liefde gaan, uit te reik na al jou vriende.