Gewapende rowers slaan toe op Leeupoort
LEEUPOORT – Die rustigheid van Leeupoort Vakansiedorp is verlede week ernstig versteur met ‘n gewapende huisroof toe drie gewapende rowers op die huis van Eddy en Hannah Redinger, beide in hul vroeë sewentigs, Woensdagaand 6 Februarie toegeslaan het. Twee van die vermeende rowers is intussen aangekeer terwyl die ander een steeds op vrye voet is.
Volgens Eddy was hy die aand omstreeks 23:15 in die boonste verdieping besig om op sy rekenaar te werk toe hy ‘n geluid onder in die huis hoor. Hy het gedink dit is dalk sy vrou wat wakker geword het en gaan tee maak het. Toe hy opstaan om te gaan kyk, het hy hom in drie mans wat met twee gewere gewapen was vasgeloop.
Hulle het sy selfoon van hom af weggeneem en met die geweer teen sy kop hom beveel om die kluis oop te sluit. Hulle het sy 9mm rewolwer uit die kluis gehaal en dit verder teen sy kop gehou en gesê dat hulle geld by hom soek en dat hulle sy vrou sal verkrag indien hy dit nie vir hulle gee nie. Eddy het daarop sy beursie met sowat R500 kontant in vir hulle gegee. Hulle het hom daarna in die slaapkamer gelos en is met sy vrou na die kombuis waar hulle kos uit die kaste en vleis uit die vrieskas verwyder het. Hulle het daarna die hele huis deursoek en buiten die kontant het hulle los goed soos kamera’s en die skootrekenaar gevat.
Die rowers is met die egpaar terug na die slaapkamer waar hulle gesê het dat hulle vir Hannah gaan verkrag en Eddy moet toekyk. Eddy het vir Hannah gesê om kalm te bly terwyl die twee hardop gebid het.
Die rowers het ewe skielik van besluit verander en vir Eddy en Hannah na ‘n ander kamer geneem en met die gesteelde goedere die hasepad geneem. Nie Eddy of Hannah is in die voorval beseer nie.
Eddy het onlangs ‘n skoueroperasie ondergaan en Hannah kon daarin slaag om oor die heining na die bure se woning te klim en alarm te maak. Die plaaslike sekuriteit is van die voorval in kennis gestel wat op hulle beurt weer die polisie laat weet het. Volgens Eddy was die polisie binne 30 minute na die voorval op die toneel.
Daar is toe bevind dat die rowers die agterdeur oopgebreek het. Dit was blykbaar die geluid wat Eddy gehoor het toe hy aanvaar het dat dit dalk sy vrou was wat doenig in die kombuis was.
Die drie rowers, almal Zimbawiërs, het verlede week vanuit die Rooiberg polisieselle ontsnap waar hulle aangehou was na die huisroof in Leeupoort gedurende November verlede jaar. Foto’s van die drie verdagtes is orals opgeplak alhoewel die vermoede was dat hulle nie meer in die Rooiberg/Raphudi omgewing is nie. Hulle was egter so vermetel dat hulle self die foto’s van hulle afgeskeur het waar dit opgeplak was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat hulle by die winkel op Koedoeskop opgemerk is. Die polisie wat reeds van vroeg af met honde en helikopters besig was om na die rowers te soek is in kennis gestel.
Twee van die vermeende rowers het in die rigting van Brits gevlug terwyl die derde in Thabazimbi se rigting gevlug het. Die twee rowers wat saam gevlug het, onderskeidelik 21 en 32 jaar oud, is die oggend van 8 Februarie aangekeer. Die derde rower is steeds op vrye voet.
Sover vasgestel kon word het die drie vermeende rowers hulle sedert hul ontsnapping in een van die vakansiehuise op Leeupoort tuisgemaak. Gedurende die tydperk was daar ook verskeie inbrake by huise in Leeupoort wat nie permanent bewoon word nie.
Die hele gemeenskap van Leeupoort word bedank vir hul betrokkenheid, asook die SAPD wat so gou op die toneel was asook die daarstelling van soekeenhede om die rowers so gou vas te trek.