Gholfnuus

THABAZIMBI – Die afgelope week was daar ‘n lekker bedrywigheid op die gholfbaan.  Buiten die feit dat die versengende hitte ‘n mens net wou laat lam lê, het daar Woensdag 24 spelers aan die Northam Toyota Sundownerkompetisie deelgeneem en is deur Mike Nortjie met 22 punte gewen.

Verlede Saterdag, 2 Februarie, was dit weer die Maandelike Slagspelkompetisie en selfs toe was die hitte geen faktor vir die lede nie, want daar was 31 spelers op die veld. Met genoeg water en proviant is die eerste spelers van die bof af. Na ‘n heerlike middag van gholf het die volgende persone aan die voorpunt van die puntetelling gestaan. Die beste gross Jaco Prinsloo met 70 houe, die beste netto Piet Venter met 70 houe, Chris Bronkhorst tweede met 71 houe, Pietie Terblanche en Jannie van Graan met elkeen 73 houe.

Sondag, 3 Februarie, het die komitee van Thabazimbi Golfklub ‘n kopkrapsessie by Zebula Country Lodge en Spa gehad, maar voordat die koppe gekrap moes word, moes daar eers met mekaar meegeding word. In ‘n formaat van ‘n vierbal-alliansie is die kaf van die koring geskei en die “ringers” het op die einde van die dag as die wenners uitgetree. Die klub wens Esmé en Chappies Behrens, Luzaan Combrink en Charlie Penzhorn geluk met die hul prestasies.

Thabazimbi Gholfklub nooi elke gholfspeler om te kom deel in die mooi natuurskoon, goeie tydsbesteding en natuurlik goeie interaksie met ander spelers.  Saterdag, 9 Februarie om 11:30 vir 12:00, is daar ‘n vierbal-alliansiekompetisie en elke Woensdag is dit die Northam Toyota Sundownerkompetisie. Belangstellende is welkom om die gholfbaan te kontak by 0760551749.

06-Gholf 1

Esmé Behrens, Oom Chappies Behrens en Jannie van Graan by Zabula se kopkrapsessie.