Tragedie na Pa se heldedaad

THABAZIMBI – ‘n Pa van twee is tydens ’n familiekuiertjie in ‘n dam doodgeskok terwyl hy sy dogter, wat ook deur elektrisiteit geskok is, daaruit wou red.

Tinus Louw (38) van Pretoria het op Saterdag 5 Januarie gesterf op Doornhoek, die kleinhoewe van sy suster, Mariaan de Beer, en haar man, Marius. Sy vrou, Lerelda (38), en hul dogter Miné (10) is albei ook deur die elektrisiteit geskok waarna ER24 hulle per helikopter na die Mediclinic Muelmed in Pretoria gevlieg het.

Marius de Beer, wat ’n boor-onderneming in Thabazimbi bedryf, moes Sondag sy swaer se lyk gaan uitken en het aan Beeld gesê dat die voorval ‘n absolute tragedie was.

Volgens hom het die Louws van Villieria in Pretoria vir die naweek by hulle kom kuier. Miné en haar nefie, Joshua, het vroegoggend besluit om in die kleinerige dam, nie ver van die woonhuis nie, te gaan visvang.

Die dam wat kurpers in het, is 4 m wyd en sowat 4 m diep.

Marius de Beer het aan Beeld gesê dat hulle Joshua hoor gil en skree het terwyl die familie ontbyt gemaak het. Almal het uitgehardloop en Miné bo-op ’n besproeiingspyp sien lê. Haar gesig was in die water.

Tinus het haar van die pyp probeer aftrek, maar dit nie reggekry nie. Volgens Beeld het de Beer gesê dat hy in die water gespring het om haar te red en is ook geskok. Hy het vermoedelik daarna verdrink.

Sy eggenote, Lerelda, het ook in die dam gespring om hom en Miné te probeer red. Sy is ook geskok.

De Beer en van sy werkers het die elektrisiteit afgeskakel en Lerelda en Miné uit die water gekry waarna mond-tot-mond-asemhaling toegepas is. Tinus is laaste uitgehaal. Marius het met al drie na die Mediclinic Thabazimbi gejaag. Tinus is daar dood verklaar. Die egpaar het nog ’n dogter, Zandrie (8).

Bron: Beeld 7 Januarie 2013.

Tinus Louw (38) van Pretoria is tydens ‘n familiekuiertjie tragies oorlede nadat hy deur ‘n besproeiingspyp in ‘n dam doodgeskok is. Foto: Beeld.