Editorial

Kultuur teenoor Tradisie

Week 2 – 11 January 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee.

Zuma het met sy onlangse beroep op swart mense om nie die wit kultuur na te volg deur hul hare reguit te maak of verlengstukke in te sit nie asook nie om die “wit” ding te doen deur troeteldiere aan te hou nie, aangesien dit nie deel van die swart kultuur is nie, duidelik bewys dat Suid-Afrika nog ‘n lang pad het om te loop voordat daar van een nasie gepraat kan word wat al die kulture omarm.

Kultuur is nie stagnant nie maar is die “gedurige hervorming en herskepping van die geestelike waardes van die mens”.* (English: Ref “Culture”**). Aangesien hierdie term dui op die verbetering en afronding van ‘n individu, veral deur onderwys, is die President totaal van die spoor af waar hy na kultuur verwys.

Indien hy na die wit kultuur verwys in die opsig dat die meerderheid van witmense hulle ouerlike verpligtinge nakom deur te sorg dat hulle kinders ‘n goeie opvoeding in terme van higiëne en dissipline by die huis reeds vanaf ‘n vroeë ouderdom ontvang, dat hulle toegewyd daaraan werk om te sorg dat hul kinders goeie onderwys ontvang en betrokke by die skole te wees, al kos dit hulle meer, en dat hulle self bereid is om deur toegewydheid en harde werk ‘n goeie kwalifikasie te bekom en vir ‘n beter toekoms vir hulself en hul kinders te werk sonder om deur stakings en verlaagde standaarde hulself finansieel te verbeter, dan is sy verwysing na wit kultuur 90% korrek. Die ander 10% kan bygevoeg word vir behoorlike gesinsbeplanning om nie deel te wees van die onbeheersde bevolkingsontploffing wat grootliks tot armoede onder die massas bydra nie. Kultuur kom nie vanself nie. Ook is die witmense nie in die posisies “ingebore” nie. Dit is iets wat etlike eeue gelede reeds begin het met die eerste geskrewe woord, die eerste musiekinstrumente, die eerste onderwysers, skole en universiteite. Die westerse-, oosterse- en watter kultuur ookal, is gebasseer op hoe die groep waarin hy beweeg bereid was om deur onderwys en opvoeding hulself te verbeter tot op die vlak waar sy kultuur hom tans bevind.

Godsdiens en geloof het een van die grootste rolle gespeel in die vorming van verskillende gemeenskappe se kulture en speel vandag steeds ‘n groot rol. Waar die trom en horing sekerlik van die eerste musiekinstrumente was en nog steeds gebruik word, verskil dit tog duidelik van ‘n klavier, viool, pyporrel en tjello. Alles instrumente wat na jou kultuur verwys ten opsigte van hoe vloeibaar jy was om jou kultuur daarby aan te pas.

Kultuur is iets wat oor ‘n tydperk geskied. Sodra kulture stagneer wys dit na gemeenskappe wat nie eintlik hul vaardighede wil verbeter nie. Dit het absoluut niks uit te maak met ras, die kleur van jou vel of jou haarstruktuur nie, dié dinge het jy van jou ouers geërf en is totaal geneties.

Waarna ons President verwys is eintlik tradisie. Dit was byvoorbeeld tradisie by die meeste wit Afrikaner huisgesinne om elke Sondag kerk toe te gaan. Alhoewel baie mense steeds met hierdie tradisie voortgaan is dit nie noodwendig meer die tradisie in baie van die wit huishoudings nie. Om jou hare reguit te maak, te krul, kleur of lank te dra (natuurlik of met verlengstukke) is jou eie keuse. Of jou familie en vriende daarvan gaan hou is jou saak en het niks met enige president uit te waai nie.

Net so is dit dalk tradisie by sekere Zulu stamme om meer as een vrou te hê, soos in Zuma se geval. Dit is nie noodwendig ‘n tradisie onder al die swart stamme nie en het niks met kultuur uit te waai nie.

Die meeste strydpunte in ons land gaan oor tradisies soos bogenoemde asook stamgewoontes soos byvoorbeeld om lewendige diere in woongebiede te slag, ongeag gesondheidsregulasies wat dit beheer en die algemene houding teenoor sanitasie soos riolering en higiëne in hospitale wat tradisioneel deur een groep aanvaar word maar deur ‘n ander groep verwerp word. Voeg hierby ook die tradisie om die stamhoof te aanvaar as die een enkele leier wie se woord wet is en wat nie onderhewig aan die regstelsel van die land is nie, ‘n tradisie wat ons president na steef om te laat herleef. Indien enige groep weier om tradisies te laat vaar ter wille van ‘n beter en gesonder lewe vir almal, sal daardie kultuur stagneer. Net soos kultuur vloeibaar moet bly en kan verander moet tradisies ook kan verander om by omstandighede aan te pas.

Onderwys en die regte toepassing daarvan is al wat kulture kan bevorder en nader aan mekaar bring. Solank dit nie gebeur nie kan daar maar van nasiebou vergeet word.

 

* NP van Wyk Louw: aangehaal deur HAT

** Wikipedia, the free encyclopedia: “The term “culture” appeared first in its current sense in Europe in the 18th and 19th centuries, to connote a process of cultivation or improvement, as in agriculture or horticulture. In the 19th century, the term developed to refer first to the betterment or refinement of the individual, especially through education, and then to the fulfillment of national aspirations or ideals”.