Bosveld groet Ouma Kotie
THABAZIMBI – Katrina Jacoba Janse van Vuuren nee Swanepoel, oftewel Ouma Kotie soos sy geliefd bekend gestaan het, is op 29 Desember 2012 in die rype ouderdom van 91 jaar oorlede.
Sy is op 18 Oktober 1921 op die plaas Rhenosterpoort gebore en was die derde kind van haar ma (Johanna Petronella gebore Enslin) maar die oudste van haar pa (Sarel Gerhardus Swanepoel). Haar ma se eerste man is gedurende die groot griep oorlede.
Dit was heerlike grootwordjare van ossewa ry Nylstroom toe vir Nagmaal, doop en kuier en donkies ry skool toe wat tot St 6 by die Moerdyk Gedenk Skool was, later Kushke Skoolplaas tot St. 8.
Andries, een van haar kleinkinders vertel hoe hy jare terug ‘n Engelse opstel gelees het wat deur Ouma geskryf is. Daarin vertel sy met geur en kleur van ‘n heerlike piekniek wat die familie gehad het en waar sy so lekker gespeel het dat sy nooit gesien het die res pak op nie. Teen die tyd dat sy agterkom wat aangaan het die ossewaens weggetrek “that the dust so pull” en toe moes sy hol vir ‘n vale om hulle in te haal, op te spring “and there sits I”. Daardie tye was Ingels mos nie ‘n sterk punt nie.
Na St. 8 is sy plaas toe waar sy haar ma gehelp het om vrugte in te lê, konfyt te kook en vrugte te droog, en met die perd vir haar ouma te gaan kuier op die berg (Kransberg – waar Louis Trichardt nou woon). Dit was oorlogtyd (tweede Wêreldoorlog) en sy wou graag gaan verpleeg, maar haar ma kon dit nie oor haar hart kry om haar te laat gaan nie. Intussen het daar ‘n jongman Andries Willem Janse van Vuuren (Andries, of Jas soos almal hom geken het) by haar begin vlerksleep en haar voete onder haar uitgeslaan.
Hulle is op 25 Julie 1942 op Nylstroom getroud maar het hulle op Thabazimbi gevestig waar Jas vir Yskor gewerk het. Drie dogters, Hannatjie, Elsa en Tinkie en ‘n seun, Jas, is uit die huwelik gebore. Pa Jas is op 18 Februarie 1970 op die plaas vermoor waarna sy die plaas verkoop het en toe in Pretoria en later Rustenburg gaan woon het.
In 1979 gaan woon sy op Thabazimbi by haar dogter Tinkie, wat na haar omgesien het tot met haar dood op Saterdag, 29 Desember 2012. Sy laat vier kinders, nege kleinkinders en nege agterkleinkinders agter.
Ouma Kotie sal onthou word vir haar hand- en inlê-werk. By haar was dit altyd ‘n groot gekook aan ‘n skottel perskes of appelkose en as kind was jy verseker van ‘n paar gebreide bedsokkies vir ‘n verjaarsdag.
Al die kinders en kleinkinders het ook elkeen die mooiste komberse of dekens gekry wat sy self gehekel, gebrei of gelaslappie het.
Ouma Kotie is op Donderdag 3 Januarie, vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimb begrawe. Ds Neville Boy het die diens gelei.
Ouma Kotie (91) is op Saterdag 29 Desember oorlede.