AfriForum Jeug: Matrikulante kan kwessies aanmeld
AfriForum Jeug het vandag matrikulante uitgenooi om hul inligting aan AfriForum Jeug deur te gee indien hulle nie teen vandag hul matriekuitslae ontvang het nie. AfriForum Jeug het die afgelope vier jaar groot sukses behaal deur direk met die departement van basiese onderwys te skakel en om probleme rakende die uitslae kollektief uit te stryk.
In die verlede is klagtes geïdentifiseer wat verband hou met matrikulante wat onvolledige matriekuitslae ontvang het, of wat uitslae ontvang het wat nie hul ware prestasies weerspieël nie.
Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê dat AfriForum Jeug gereed staan om matrikulante met enige klagtes by te staan en te verseker dat hul regte nie geskend word nie. “Enige wanadministrasie deur die departement kan maklik daartoe lei dat leerlinge se beursaansoeke, tersiêre studies en werkgeleenthede gekelder word.”
Volgens Oberholzer moet matrieks wat nie universiteitsvrystelling verwerf het nie steeds poog om ’n naskoolse kwalifikasie te verwerf. “’n Belegging in naskoolse opleiding is sekerlik die belegging met die beste opbrengs,” sê Oberholzer.
Matrikulante wat probleme met die uitreiking van hul uitslae ondervind, kan ’n e-pos rig aan jeug@afriforum.co.za.