Community

TBZ Munisipaliteit werk deurnag om water te voorsien

THABAZIMBI – Die 40-jarige hoofwaterpyplyn, wat slegs ‘n 30-jaar leeftyd het, maak die afgelope paar maande groot amok deur op die mees ongeleë tye  weens verhoogde druk, plek-plek te bars.

Steeds huiwer die moedelose werkers van Thabazimbi Munisipaliteit nie om elke kort-kort deurnag te spook om skade aan die pyp te herstel sodat inwoners van hul dorp water kan hê nie.

Die onlangse geval wat Joshua Motsomane, Thabazimbi Munisipaliteit se Kommunikasiebeampte op bladsy 2 van hierdie uitgawe beskryf het, het Thaba inwoners se gemoedere weer laat opvlam. Die beplande wateronderbreking op Donderdag 6 Desember was die eerste dag van vyf wat die gemeenskap gedeeltelik sonder water gelaat het.

Alhoewel die wateropgraderingswerke tot diep in 2013 met beplande wateronderbrekings gaan plaasvind, is dit die onbeplande wateronderbrekings wat egter lei tot groot frustrasie in die gemeenskap.

Volgens DA-raadslid, Franco Loots was hy deur die loop van die vyf-dag onbeplande wateronderbreking, by die plekke waar werkers onverpoos deur die dag en nag gewerk het om die lekkasies te herstel en gesien hoe hard hulle werk om te probeer verseker dat die gemeenskap so gou as moontlik van water voorsien word.

Loots spreek sy dankbaarheid uit teenoor die werkers wat 24 uur lank gewerk het om die gemeenskap van water te voorsien, sowel as instansies soos Kumba wat hul toerusting beskikbaar gestel het om toe te sien dat die waternetwerk so vinnig moontlik herstel word.

Hy vra egter dat die publiek geduldig moet wees terwyl die wateropgraderingswerke plaasvind. Die pypnetwerk is groter as vroeër jare en daar is nou meer lekplekke weens die groter druk.

Loots vra dat die gemeenskap lekplekke by die regte plekke rapporteer en nie op sosiale netwerke nie, aangesien die Munisipaliteit nie oor Facebook beskik nie. Die noodnommer vir Water is 083 703 2805 en Elektrisiteit is 083 703 2804.

Munisipale werkers het deurnag en in die reën gespook om die gebarste pype te herstel. Foto: Franco Loots.