Swartgoud-euwel
Week 50 – 14 December 2012
Kommentaar deur die Redakteur, Pieter Coetzee:
Terwyl die Verenigde Nasies hulle beraad oor aardverhitting in Dubai hou, is daar enorme beplanning deur Eskom, in samewerking met die Suid-Afrikaanse regering, om nog meer swart ekonomiese bemagtigings (SEB) steenkool myne in die Waterberge te begin om die behoeftes na 2018 te voorsien. Suid-Afrika is nogal een van die ondertekenaars van die 1997 Kioto onderneming om die vrystelling van kweekhuisgasse te beperk.
Buiten dat dit ‘n ooglopende poging is om die sukkelende SEB stelsel aan die gang te hou, bied dit ook meer spasie vir die enorme aantal tenderpreneurs vir meer korrupsie en ‘n beter geleentheid om die belastingbetaler se geld in hul sakke te sit. Dit is veral die kleinsakesektor, wat die grootste werkskepper in enige ekonomie is, wat die spit gaan afbyt. In plaas daarvan dat hulle werk skep vir myners wat met pik en graaf die steenkool uithaal ontneem hulle die duisende werkers, wat deur die al hoe meer verarmde kleinsakesektor van hul werkers ontslae moet raak, ‘n reg tot ‘n inkomste.
Ons sit reeds met hierdie “swartgoud”-myne wat ongeag die afwesigheid of negatiewe implikasies van omgewingsimpakstudies en waterlisensies, voortgaan met hul mynbedrywighede, solank dit SEB gedrewe is. Ek glo dat die algemene swart politikus my hieroor as ‘n rassis sal uitkryt terwyl daar talle swart ekonome is wat dieselfde euwel ook aanspreek en my nie as ‘n rassis sal uitwys nie. Dit is duidelik dat ons regeer word deur ‘n land waar die meeste politici oor geen agtergrond of geleerdheid beskik nie, solank hulle in duur motor en in duur hotelle kan bly. Hier hoef ons maar net te kyk na ons geagte minister van maatskaplike ontwikkeling, wat juis die lot van die armes wat in plakkerhutte bly moet verbeter, se vermorsing van miljoene rande deur haar verblyf in luukse hotelle.
As die regering eerlik is oor sy motiewe toe hy die Kioto onderneming onderteken het, sal hy sy versugting na swart goud beperk tot dit wat Eskom nodig het om elektrisiteit vir die mense van Suid-Afrika op te wek eerder as om, in hul drang na rykdom, al die goeie kwaliteit steenkool wat ontgin word na die buiteland uit te voer. Indien hulle dit doen, glo ek nie dat daar eens ‘n behoefte bestaan om die steenkoolmyne in die Waterberge te ontwikkel nie.