AfriForum eis dat Thabazimbi-munisipaliteit rioolstorting stopsit
THABAZIMBI – AfriForum het vandeesweek ‘n brief aan die munisipale bestuurder van die Thabazimbi-munisipaliteit gerig waarin geëis word dat die munisipaliteit aksie neem om besoedeling in die Rooikuilspruit stop te sit.
Volgens Wesley Martin, ‘n organiseerder by AfriForum, het die plaaslike gemeenskap ernstige rioolstortsels onder AfriForum se aandag gebring. “Verskeie lede van die gemeenskap is besorg oor die besoedeling in die Rooikuilspruit. Dit word beweer dat die Thabazimbi-munisipaliteit grootliks tot die probleem bydra,” het Martins gesê.
AfriForum het die gebied besoek waar die riool na bewering gestort is; die Thabazimbi-rioolinstallasie en verskeie eiendomme stroomaf. “Twee monsters is van die water in die Rooikuilspruit geneem, een stroomop en een stroomaf van die rioolsuiweringsaanleg, en na ‘n onafhanklike laboratorium vir toetse gestuur,” het Martin gesê.
“Die omvang van die besoedeling hou ? groot bedreiging vir menslike gesondheid sowel as vir die rivierekosisteem en ander natuurlike hulpbronne in. As ‘n gevolg van hierdie besoedeling staar die hele gebied stroomaf, insluitend grondwater, besmetting in die oë. Hierdie kan tot ‘n omgewingsramp lei,” het Martin bygevoeg.
AfriForum het ‘n skriftelike plan en rooster versoek wat voor Woensdag 12 Desember 2012 gelewer moet word. Dié plan moet die aksies uitlig wat die munisipaliteit van plan is om te neem om die probleem op te los.
Vir enige verdere inligting of om betrokke te raak by die AfriForum-tak kontak gerus Wesley Martin by 079 490 2611, wesley@afriforum.co.za.