Groot opkoms by Borskanker bewustheidsdag

THABAZIMBI – Sowat 300 dames uit Thabazimbi en omgewing het die Borskanker bewustheidsdag, ‘n hoogtepunt op die gesondheidskalender, op Saterdag 10 November bygewoon.

Die dag is aangebied ten einde vroue rondom borskanker in te lig en te bemagtig, maar het ook gedien as ‘n geleentheid waartydens fondse gegenereer kon word ten bate van Helpende Hande – ‘n nie-winsgewende organisasie wat kankerpasiënte en hul families, in Thabazimbi, ondersteun.

Hierdie geleentheid was in die vorm van ‘n noenbyt, aangebied in die Trollope/Trophy Breeders saal. Die spreker was dr Alwyn Carstens, ‘n Radioloog van Pretoria, met ‘n intense belangstelling in mamma karsinoom (borskanker).

Deur sy gemaklike, komiese styl, is van die nuutste navorsing en broodnodige inligting aangaande hierdie onderwerp, oorgedra.  Dr Carstens noem onder andere dat borskanker aan die toeneem is. Die nuutste fokus is om lewens te red, maar ook kwaliteit van lewe te bevorder, deur weefsel te bespaar, mastektomie is dus selde meer ‘n opsie. Die sukses lê in vroeë diagnosering wat jaarlikse mammogramme vanaf 40-jarige ouderdom insluit. Die risiko faktore en voorkoming van borskanker is ook bespreek en lig is gewerp op die jare lange debat rondom hormoonvervangingsterapie.

Deur middel van die oop hand van besighede en individue uit ons omgewing, kon ‘n tjek van R79 000 aan Helpende Hande oorhandig word. Ses gelukkige dames is ook bederf met pryse geborg deur plaaslike salonne en terapeute.

Drs De Kock en Vennote bedank in besonder die formidabele span wat betrokke was by die reëlings. So ook elke borg, donateur en dame teenwoordig by hierdie mooi geleentheid. Hulle bedank ook graag vir Hannes Coetzee van Thaba SuperSpar vir sy reuse donasie tydens die Borskanker bewustheidsdag.

Die organiseerders op die foto is van links na regs: Franco Loots, Annelie Pelser, Dr Mart-marie Marais, Vicki Bester, Marinda Trichardt en Dr Anell Groenewald.