Kwêvoël presteer by Limpopo toekennings

TZANEEN – Kwêvoël het tydens die afgelope LiN Media toekenningsfunksie daarin geslaag om met een van die top-toekennings weg te stap.

Hierdie toekenningsfunksie is die eerste wat deur LiN Media aangebied is, en volgens die beoordelaars het al die koerante wat ingeskryf het van ‘n hoë standaard in sowel joernalistiek en aanbieding getuig. “Die positiewe kritiek wat uitgespreek kon word, het die negatiewe ver oorheers” het die beoordelaars wat onder andere lektore van die Departement van Joernalistiek van die Tswane Universiteit vir Tegnologie ingesluit het, na afloop van die geleentheid gesê.

Kwêvoël is as wenner van die beste webtuiste (www.kwevoel.co.za) aangewys, en het uit die totaal van tien koerantinskrywings ook derde plek vir die portefeulje vir beste voorblaaie behaal. Hier word ‘n spesiale woord van dank uitgespreek teenoor die totale Kwêvoël personeel, in besonder Justin Coetzee, wat Kwêvoël se webtuiste reeds vir meer as ‘n dekade onderhou, en Estie Taljaard wat sorg dat die webtuiste weekliks opgedateer word. Die beoordelaars het ook genoem dat hulle beïndruk was met Kwêvoël se drukwerk.

LiN Media bestaan reeds sowat vyf jaar en Kwêvoël is in Februarie 2010 uitgenooi om deel te word van hierdie groep uitgewers. Een van die groot redes van die totstandkoming van LiN was om ‘n meer verteenwoordigende voetspoor van onafhanklike uitgewers in die Limpopo Provinsie te laat. ‘n Totaal van tien koerante, verteenwoordigend van sewe onafhanklike uitgewers, vorm deel van LiN Media.

Een komponent van LiN Media is om nuus wat van toepassing is op meer as een gemeenskap, deur die verskillende koerant in die LiN Media-groep gedeel kan word. Hierdeur kan professionele nuusdekking van ‘n nuusgebeurtenis in byvoorbeeld Lephalale, wat ook die gemeenskap van Thabazimbi betrek, deur Kwêvoël aan die plaaslike gemeenskap deurgevoer word. Dieselfde geld vir nuusgebeure in Steenbokpan, Bela Bela, Vaalwater, Modimole (Nylstroom), Mookgophong (Naboomspruit), Makopane (Potgietersrus), Tzaneen, Louis Trichardt, Hoedspruit en Musina.

Vrydag 30 November is die wenners tydens ‘n spoggeleentheid, wat in Tzaneen aangebied is, bekend gemaak.

Die Pos van Bela Bela is as die algehele beste koerant aangewys. Ander afdelings het ingesluit, advertensies, verskeie kategorieë in joernalistieke skryfwerk asook fotografie.

Die groep van beoordelaars het ook genoem dat die kompetisie baie professioneel aangebied is, iets wat hulle taak as beoordelaars baie ligter gemaak het. Hulle het LiN Media ook geluk gewens met ‘n puik toekenningsfunksie, die eerste van vele wat vir die toekoms beplan word.

Michell Loubser ontvang namens Kwêvoël die LiN Media toekenning vir die Beste Webtuiste by Fanie Groenewald (Tswane Universiteit vir Tegnologie) wat deel van die paneel van beoordelaars uitgemaak het. Foto: Suap Photography.